ToekomsVenster: Geleentheid en weerstand

(Foto: Sylwia Bartyzel/Unsplash)

Intussen bly ek in Efese tot Pinkster, want hier staan nou ’n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat op die evangelie reageer. Daar is egter ook baie teenstanders. – 1 Korintiërs 16:8-9

Geleentheid en weerstand gaan volgens die teksvers dikwels hand aan hand. Ons is geneig om soms nie met albei rekening te hou nie.

Die geleentheid is oorweldigend en selfs die vervulling van ʼn lewenslange droom wat jy koester. Jy gryp dit met albei hande vas en stu bykans blindelings voort ten einde dit te verwerklik.

Skielik doem weerstand en teëstand voor jou op en dit ontsenu jou tot die mate dat jy verslae handdoek ingooi.

Die alternatief is dat jy net die negatiewe raaksien. Die droom is nog nie eers mooi geformuleer nie, die strategie is nog nie bedink nie maar jy getuig soos die spioene van ouds: “Daar is reuse voor wie ek magteloos staan”. Dit laat jou moedeloos en jy het verloor nog voordat jy begin het.

Nee, die twee goed, geleentheid en weerstand van een of ander aard gaan hand aan hand. Meer as dit selfs, hoe groter die droom, hoe groter die teenstand. Teenstand kan verskeie vorme aanneem.

Woede, bespotting, gerugte, leuens, die ondergrawe van jou motivering en integriteit. Die Bybel waarsku dat ons bedag moet wees dat wanneer ons iets in die geloof aanpak, daar weerstand sal wees. Somtyds is dit selfs ander kinders van die Here wat as gesante van die negatiwiteit optree. Dit is so jammer, maar ek vermoed een en elkeen het dit al ervaar.

Hoe oortuig is jy van die ding wat die Here in jou hart geplaas het?

As dit van Hom af is verwag dat die duiwel sy afbrekende werk in en rondom jou sal probeer doen. Moet hom nie die genoegdoening gee nie. Hy (die bose) het vir jou niks gedoen nie, God het in Christus alles gedoen. Vertrou Hom daarom ook met die droom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.