ToekomsVenster: Gelowige, jy is reeds vrygekoop

(Foto: Frank Mckenna/Unsplash)

Vakansie is ʼn wonderlike stuk genade. Daar is sekerlik miljoene mense in Suid-Afrika wat nooit die voorreg sal hê om op ʼn plek van hul keuse te gaan uitspan nie. Die genade is ons tans beskore en my hart loop oor van dankbaarheid.

Metafore is fenomenale hulpmiddele om waarhede oor te dra. Jesus, ja die Bybel, maak rojaal gebruik van metafore om waarhede en soms teregwysing of waarskuwings, vermanings, maar oor troos oor te dra. Metafore betrek nie net die intellek nie maar die ryk wêreld van verbeelding, intuïsie, kreatiwiteit, oorspronklikheid, ensovoorts.

Wat die een persoon in ʼn metafoor of beeld raaksien en hoor mag vir ʼn ander persoon ontoeganklik wees en omgekeerd.

Waar ons vakansie hou is daar merkwaardige metafore. Vandag wil ek vertel van die een wat my lekker laat lag, maar ook laat wonder. Laat lag omdat dit so snaaks is, laat wonder omdat ek bekommerd is dat dit dalk die wyse is waarop die Evangelie na ons toe gekom en net dalk steeds kom.

Die wêreld waar ons bly, voel vir my, is vol waarskuwings. Ons eie blyplek, lieflik, funksioneel en baie netjies het ʼn elle lange inventaris wat in besonderheid nagegaan moet word wanneer ʼn mens aankom en binne afsienbare tyd ingehandig moet word. Alles behalwe die voordeur is op daardie lysie met ʼn prys daarnaas van wat dit sal kos as dit vermis word.

Nie alleen die breekware nie, dit kan en nog verstaan, maar elke en iedere stukkie meublement is daarop aangebring. Die bank in die leefvertrek sal ʼn allemintige R25 000 kos om te vervang. Ek het al gehoor dat ʼn mes of vurk vermis word, maar die bank?

Ons het al ʼn glas of koppie moes vervang omdat ek gewoonlik ietwat hard met die breekware werk. Dit kan ek verstaan, maar om die bank, yskas, stoof of mikrogolf weg te dra het nog nooit by my opgekom nie.

Die noodknoppie mag nie gedruk word nie, R250 boete as jy dit per ongeluk doen. Op die strand eweneens verskeie waarskuwings. Geen vuur nie, R500 boete. Geen geraas nie, R500 boete. Geen dit en dat nie. R500, selfs ʼn R1 000 boete.

ʼn Mens begin wonder wat jy dan mag doen. Goed, ek verstaan dat ervaring die owerhede seker daarby gebring het om al hierdie boetes in te stel. Maar sjoe, dis darem erg.

Ek wonder of ons belewenis van God, die Woord, die kerk en prediking dalk nie ook so is nie.

Moenie, moenie, moenie.

Sonde, sonde, sonde.

Boete, boete, boete.

Dis jammer want God het juis sy Seun gestuur om die lewe in volheid te laat deurbreek.

Paulus maan die gemeente in Galate om nie na ʼn wettiese, reëlgebaseerde godsdiens terug te keer nie.

Ons is vry.

Leef in daardie vryheid.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.