ToekomsVenster: Geluk kom van God

(Foto: Sasha Freemind/Unsplash.)

Romeine 15:13 – Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Vreugde en vrede. Die mees gesogte skatte in die heelal. Vra ʼn mens wat hulle meer as enige iets anders wil hê en die meeste vermoed ek, juis omdat dit ook vir my belangrik is, sal sê, vreugde en vrede. Kan ek die twee begrippe onder een gemeenskaplike naam saamvat? Dit sal dan so klink: Wat wil jy van die lewe hê? Die antwoord: Ek wil net gelukkig wees.

Is dit te veel gevra, dalk onrealisties en onhaalbaar? Kan ʼn mens waarlik gelukkig wees in ʼn wêreld wat van soveel gebrokenheid getuig? Kan ʼn mens omring van persoonlike en gemeenskapsnood ʼn plek bereik waar jy sonder twyfel kan sê ek is gelukkig? Die antwoord is, ja en nee.

Hoe definieer jy geluk?

As dit ʼn moet my die pla nie geluk, los my uit en laat my begaan geluk sal dit jou bly ontwyk. As dit ʼn selfsugtige, egosentriese en selfdienende geluk is sal jy altyd ontevrede bly. As dit geluk ten koste van is sal jy teleurgestel word. As dit geluk sonder God, sy Woord en struktuur vir die lewe is sal jy eerder die teenoorgestelde ervaar.

Geluk kan God nie uitsluit nie. Geluk kan jou medemens ook nie uitsluit nie. Hoe meer jy hunker hoe meer ontglip dit jou. Jou geluk is direk eweredig met die geluk van die mense wat God op jou pad bring sonder om die onmoontlike van jou te verwag.

Jou geluk word begrond in die genade van God en begin wanneer jy jou aangewenheid op God besef.

Jy moet ook nie jou geluk uitkontrakteer nie. Dan redeneer jy, ek kan nie gelukkig wees nie want my man, vrou, kind, werkgewer, gemeente, raadslid of onderwyser maak dit vir my onmoontlik. Hulle mag ʼn impak hê op jou geluk, maar kan dit nie volledig wegneem nie.

Geluk lê binne jou, dit is ʼn innerlike stabiliteit wat kom in en met die wete dat elke haar getel is, my lewensdae opgeskrywe is, God my by die naam ken, ʼn wonderlike plan vir my lewe het en Immanuel, God met ons is en bly.

Dalk wil jy weer ʼn bietjie nadink oor geluk. Op ʼn skaal van 1 van 10, hoe gelukkig is jy? Waaraan skryf jy dit toe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat vergenoegdheid en gelukkig wees is met U die lewensreis aan te pak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.