ToekomsVenster: Gister is verby

(Foto: Stephan Hauman)

ʼn Mens dink baie as jy ouer word. Jy dink oor gister, vandag en môre.

Soms oorweldig gister jou denke.

Het ek dit reg gedoen, kon dit anders? Is daar besoeke wat gebring moet word en verskonings, desnoods vergifnis wat gevra moet word? Het ek reg gehoor of net my eie koers ingeslaan? Was dit regtig die Here se leiding? As ek my lewe oor het, sou ek dit weer so gedoen het?

Ongeag die feit dat gister onherroeplik verby is, water onder deur die brug, blare in die wind weggewaai om nooit ooit weer bymekaar gemaak te word nie, dring die vrae hul tog wel aan ʼn mens op.

ʼn Mens moet keer of jy verloor perspektief. ʼn Mens leer immers ook deur foute te maak. Niemand is in alle opsigte suksesvol nie.

Almal ontbreek aan ʼn 360 grade-perspektief. Dikwels strompelend, struikelend op pad, sonder dat jy regtig weet waar jy gaan uitkom. Tog gaan jy voort. Jy woel en werskaf en glo dat alles sal uitwerk.

Het dit uitgewerk? Vir almal uitgewerk? Goed uitgewerk?

Gister is vir altyd verby. Stofdeeltjies in die lug.

Die toekoms?

Ja, daaroor wonder ʼn mens ook baie, sommer baie. Namate die oorbly-jare kort word, begin jy dink oor prioriteite.

Wat is nou belangrik? Jy begin dink aan geleenthede, die wat nog daar is, om die beste daarvan te maak. Jy dink aan die wenslysie. Voor ek gaan wil ek nog… Jy begin dink aan die slaap, die lang slaap wat voorlê.

Dankbaar dat jou toekoms by God lê. Biddend dat die afsnydatum nog sommer baie ver voor lê. Terwille van die groot gemis.

Dankbaar dat jou naam geskryf is in die boek van die lewe en die Lam. Niks en niemand kan ʼn mens daar uitskryf nie. Dis vir altyd.

Dan bekeer jy jouself weer tot vandag.

Dis al wat ek het, wat jy het, ongeag van hoe oud ons is. Die nuus ontstel bykans daagliks oor mense wat weg is in die fleur van hul lewens.

Dit het niks met ouderdom te doen nie.

Dalk is die vraag – in stede van – hoeveel jare in jou lewe veel eerder, hoeveel lewe in jou jare?

Leef voluit. Ons het vandag!

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.