ToekomsVenster: God gaan iets nuuts doen

woestyn-02

(Foto: Wolfgang Hasselmann/Unsplash)

“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur. Julle kan dit al sien kom.” – Jesaja 43:18

Miskien is die volgende vers, vers 19, die opsomming van die belofte:

“Ek maak in die woestyn ʼn pad. Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Toegegee, ek het wel gister gesê dat ʼn mens somtyds eers moet terug kyk, voordat jy vorentoe kyk.

Daarmee het ek bedoel dat ʼn mens die historiese perspektief van jou eie geloofslewe nie moet miskyk nie. Immers, God was getrou, gister en eergister en die dag vantevore.

Op grond daarvan kan ʼn mens met groot sekerheid sê dat Hy ook vandag en môre sal doen wat Hy beloof het om te doen.

Dit is meer dikwels die manier waarop die Psalmdigter met sy eie ongemak omgaan. Vir ʼn oomblik voel Hy dat sy situasie hopeloos is. Dan herroep hy bewustelik God se handelinge in die verlede in sy gedagtes na vore.

Dit wek geloof by hom, in so ʼn mate dat hy bereid is om sy eie hopeloosheid in die oë te kyk en met verwagting die toekoms tegemoet te gaan.

Dan weer maan die Bybel ons om klaar te maak met die “gisters” in ons lewe.

Ek verwys jou weer na die historiese konteks van hierdie bepaalde gedeelte in Jesaja 43. Die volk van die Here sal op grond van hulle eie onverskilligheid weggevoer word deur die Babiloniërs. Later sal hulle terugkeer na die beloofde land. Daar gaan God nuut met hulle begin.

Nou vra die Here sy volk om van gister te vergeet.

Mense is nie robotte nie en vergeet is nie maklik nie. Uiteraard kan die Here onaangename herinneringe volledig uitblus, Hy kan tog enigiets doen. Die bedoeling is egter meer waarskynlik dat die volk van die Here, ook elke individuele gelowige, nie daaraan soveel gewig moet toeken nie.

Sommige mense vind ʼn tuiste in die verlede. Dit verklaar waarom hulle dink en voel en doen soos wat hulle dink en voel en doen.

Omstandighede het hulle gemaak wat hulle is, omstandighede moet die verantwoordelikheid dra.

Hulle staan weerloos teenoor gister en eergister.

Die skade wat dit berokken het, is permanent en daar is geen salf te smeer nie.

Uiteraard, met so ʼn ingesteldheid, is die God van die Woord geweeg en te lig bevind. Sy beloftes hou nie water nie. Hy kan wat Hy belowe in sy Woord, nie gestand doen nie.

Derhalwe verkies mense om hulle troostelose toestand voort te leef.

Nee sê die Here, kry nou klaar daarmee. Ek wil ʼn nuwe ding doen, maar jou ingesteldheid jeens die lewe maak dit vir my onmoontlik.

Jy kan nie vasgeketting bly aan die verlede, maar terselfdertyd die vryheid van die hede en die toekoms, gerugsteun deur God se beloftes, omarm nie.

Dis die een of die ander, dis klaar maak sodat die nuwe kan kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Amen (Laat dit so wees!). Om Steve Hofmeyer te parafraseer! Ek kan nie ‘n beter gister bou nie, maar wel ‘n beter toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.