ToekomsVenster: God ken my siel

(Foto: Stephan Hauman)

“Die vlaktes in die reën… die natuur Coram Dei. Die aarde maak haar siel oop voor God”.

Ek ploeg hierdie week, heel week, met die dominee van wie ek gepraat het, se sê-kalwers. Hy sê dit mooi, raak, en dit resoneer in ʼn mens se siel. Aanhoudend, amper opdringerig maar mooi, spesiaal, melodies ryk.

Hy beskryf die vlaktes in die reën en hoe die aarde dit ontvang. Sjoe, uitnemend, uitstekend.

Daar is min dinge so verfrissend soos ʼn bui reën. Dit het pas ʼn paar druppels by ons geval.

God kan darem ʼn tuin natmaak soos geen besproeiingstelsel nie!

Die natuur reageer ook nie op water uit ʼn kraan soos op reëndruppels uit die lug nie.

Reën is ʼn mengsel van Goddelike sorg, deernis, omgee, liefde, beloftes. Hy het mos gesê Hy sal sorg. Reën is ʼn metafoor van God se genade. Dis onverdiend, dis vrypostig, ruim, intens en intiem.

Die natuur buig voor die Almagtige as dit reën. Dis in die teenwoordigheid van die Allerhoogste wees. Die volgende sinnetjie bring my tot stilstand – die aarde maak haar siel oop voor God.

ʼn Siel is dit wat hier binne is, dis heilig, persoonlik, dis net vir sekere mense toeganklik. ʼn Siel is soos ʼn geleentheidsdeur, dit maak vir ʼn enkele oomblik oop en beweeg dan weer na sy geslote posisie. ʼn Siel nooi ook net sekere mense binne. Jou siel ontbloot jy nie vir alles en almal nie. ʼn Mens is suinig met jou siel. Dit vat lank voordat ek my siel aan jou ontbloot. Moenie met my siel mors nie, dis uiters sensitief en die skatkamer van my bestaan.

God ken my siel. Ek deel my siel met Hom. Hy verstaan. Hy verwyt nie. Wys nie vingers nie. Skryf nie af nie. Hy is nie veroordelend, vingerwysend of gewoon ongeskik soos sommige mense nie. Nee, Hy koester my siel.

Die aarde maak haar siel vir God oop wanneer dit reën, want God is in elke druppel.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

BOKKIEBEK ·

WoW dit is sooooo mooi gestel… Dankie Here dat U my siel ken…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.