ToekomsVenster: God sal jou by die wenstreep bring

(Foto: Adi Goldstein/Unsplash)

Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? – Luk. 14:27-28

Ek herinner my dat daar in Pretoria, die ooste van Pretoria, ʼn enorme winkelsentrum staan wat nooit klaargemaak is nie. Dit sou ʼn imposante konstruksie word wat op daaglikse basis honderde mense sou ontvang het.

Tientalle winkels sou hul deure hier kon open en vertoonvensters sou spog met die beste wat tans beskikbaar is. Verlangende oë sou staar na die mooi dinge wat die lewe bied en planne beraam hoe hulle genoeg kan spaar om daardie gesogte item te bekom. Glinsterende juweliersware, spesiaal vir Moedersdag, ʼn huweliksherdenking of verjaarsdag sou belangstellendes lok.

Ek veronderstel dat daar verskeie kuierplekke, koffiewinkels en eetplekke sou oopmaak. Oral sou jy groepies mense sien wat gesellig saamkuier, eet en gesels.

Daar sou ook teaters oopmaak. Die nuutste James Bond-fliek sou nou ook daar vertoon word. Daar sou dalk ʼn teater oopgemaak het waar nostalgies geluister kon word na die gunsteling liedere uit verskillende eras. Dit is mos ʼn gewilde aanbieding, musiek uit vervloë se dae. Teen die einde van die aand dans die mense letterlik op die tafels.

Daar sou sekerlik ook ʼn paar boekwinkels oopgemaak het waar die beste geestelike en ander literatuur aangekoop kon word.

Trollies vol produkte sou na parkeerareas gestoot word terwyl die motoroppassers hand bysit en belowe om die trollie terug te neem na waar dit hoort, natuurlik teen ʼn fooitjie.

Van die droom het egter niks gekom nie en die struktuur staan al so lank leeg dat ek nie dink dat dit ooit gaan gebeur nie.

Verskillende weergawes verduidelik waarom die sentrum nie voltooi is nie. Feit van die saak is dat die gebou onvoltooid staan en dat dit wie ook al begin ontwikkel en bou het nie tot eer strek nie. Hulle het met die teks nie rekening gehou nie. “Bereken eers die koste voordat jy aangaan met ʼn saak”.

Soveel mense begin die geloofspad entoesiasties maar soos die gelykenis van die saad raak hul entoesiasme en oortuiging al hoe minder totdat daar niks van oorbly nie. Wie in eie krag probeer, sal misluk.

Weet net ook dat as jou hart in die regte plek is en jou voorneme om Jesus te volg van integriteit getuig, God self jou by die wenstreep sal bring.

Moenie omkyk en halfpad uitsak nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat ek in U krag alleen die wenstreep kan haal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.