ToekomsVenster: God se kinders lewe anders

hand-in-son-galleryhip-com

Argieffoto.

Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs? – Psalm 2:1

Die nuus is daarvan vol. Die volkere wêreld stoom voort.  Reg oor die wêreld word daar vergaderinge gehou, sommige bi-lateraal ander multilateraal – lekker politiek korrekte woorde om te gebruik.  Klink ook slim nè!

Die konferensiesale is vooruitbespreek en dit is die een beraad ná die ander. Belangegroepe word bymekaar getrek en sake van die dag word lewendig debatteer.  Ooreenkomste word bereik maar in die praktyk is dit dikwels kortstondig en word afsprake maklik van die tafel gevee.  Die volkere wêreld is baie besig.

Op grondvlak egter verloor tienduisende mense hul lewens, word duiseligwekkende hoeveelhede mense se leefwêreld ingrypend en ontstellend onderstebo gekeer deur die magsvertoon en magsvergrype van heersers. Terwyl leiers aan verversings smul vlug mense oor grense na naburige lande opsoek na veiligheid en stabiliteit.  Honderde manne, vroue, kinders, oumense verdrink in die see. Alles word ontwortel en deurmekaar gekrap.  Beelde van uitgehongerde en ontwrigte kinders word die wêreld ingestuur.

Nog verdrae word gesluit, sanksies toegepas, soldate ontplooi, noodvoorrade versprei, maar die wêreld verander nie wesentlik nie.

Die toekoms lyk nie aldag rooskleurig nie.  Dit lyk nie of wêreldleiers hul optrede deur God, sy Woord en Koninkryksbeginsels laat beïnvloed nie.  Dis humanitêr, sekulêr, aards.  Dis menslike wysheid wat dwaasheid is by God.

God se kinders moet anders lewe.  Ons roeping is om ander se lewenskwaliteit en potensiaal te verbeter.  Die toekoms gaan die besluite wat ons vandag maak uitspeel.

  • Besoek die ToekomsVenster-inisiatief se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.