ToekomsVenster: God voorsien

(Foto: Milan Popovic/Unsplash)

En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. – Filippense 4:19

God voorsien maar nie altyd soos ek en jy dit verwag of wil hê nie. Somtyds voorsien Hy met ompaaie, somtyds deur nee te sê. Somtyds moet jy wag, selfs lank wag en ander kere tussen die reëls lees. Sy voorsiening is nie altyd herkenbaar nie en dit is eers as jy terugkyk dat jy agterkom dat Hy toe wel na jou gebed geluister het.

Mag ek nog ’n paragraaf uit Nightbirde se getuienis aanhaal:

“Ek het Hom ‘n bedrieër en ‘n leuenaar genoem, en ek het dit bedoel. Ek het vir Hom gesê dat ek wil sterf, en ek het dit bedoel. Trane het die enigste gebed geword wat ek ken. Gebede rol oor my neusgate en drup my onderarms af. Hulle val op die grond as ek na Hom gryp. Dit is die gebede wat ek nag en dag herhaal; sonsopkoms, sonsondergang.

“Noem my bitter as jy wil – dit is regverdig. Tel my onder die kwaad, die siniese, die aanstootlike, die geharde. Maar tel my ook onder die vriende van God want ek het Hom in seldsame vorm gesien. Ek het sy uitasem gevoel, in sy skaduwee neergelê en gekies om die boodskap wat hy vir my geskryf het in die voeg te lees: ‘Ek is ook hartseer.’ “

Is jy ook moeg vir maklike antwoorde, Sondagskoolteologie, geykte waarhede. Ek dink Covid-19 het ons genees van opppervlakkighede asof ons alles verstaan. Die waarheid is, ek wat hier skryf verstaan ook nie altyd nie. Ek worstel self, klop aan God se deur en het talle vrae.

Nightbirde se getuienis help my soveel. Sy draai nie doekies om nie. Mens noem dit “verhouding” eerder as oppervlakkighede wat nie van die grond afkom nie.

Luister weer na die teks. Wat beteken dit vir jou vandag?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.