ToekomsVenster: God vra na ons harte

(Foto: Clay Banks/Unsplash)

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. – Joël 2:12-13

Die volk bevind hulle op ʼn desperate plek en God nooi hulle om terug te keer na die gebaande weë.

Aan die een kant word die voorwaarde vir ʼn herstelde verhouding duidelik gestel. Aan die anderkant wat hulle te wagte kan wees as hulle hulself wel so tot Hom toekeer.

God vra na ons harte, ons hele hart. Nie kosmeties, oppervlakkig en vals nie – so terwille van die skyn nie. Nee, die Here sien alles en om oppervlakkig met Hom om te gaan is beledigend.

Jou “hele hart” sê die teks. Daarmee saam ʼn gesindheid van gebrokenheid, opregtheid en berou.

Berou beteken ʼn diepgesetelde, “jammer Here” waarvan die kwaliteit sê “ek sal dit nie weer doen nie”.

Toegegee, dit is somtyds ʼn proses, dit gebeur somtyds staan en val maar die intensie is eerlik en opreg en uiteindelik kan jy terugkyk en Goddank verklaar – “dit lê nou agter my, ek is nou daarmee klaar. Loof die Here”.

Vas beteken ʼn intensionele soeke na die Here selfs met die prysgawe van ander dinge.

Huil vertel van trane wat vloei en treur van ʼn diepgesetelde berou. Die Here kan en sal ʼn hart vol berou nooit wegwys nie.

Psalms 51:19 – Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.

Dan die B gedeelte van die teks, dit wat ʼn mens te wagte kan wees wanneer jy met so ʼn gesindheid na die Here toe kom. Absolute, onvoorwaardelike en liefdevolle aanvaarding, warmte, toegeneentheid en liefde. Geen verwyte, voorbehoude, pessimisme en hardvogtigheid nie.

Liefde en liefhê soos net God dit kan doen. Genadig, barmhartig, lankmoedig, vergewensgesind.

Ek weet nie waar jy jou op die reis saam met God bevind nie?

Dalk het dinge verkeerd geloop. Dalk het jy jou vrymoedigheid verloor en redeneer jy dat jy nie weer welkom sal wees by die Vader nie.

Ek herinner jou graag aan die aangrypende verhaal van die verlore seun.

Die Vader wag op jou. Kom tuis. Almal wat moeg is, kom tuis. Saggies en teer klink die roepstem van Jesus. Hy roep, o sondaar, kom tuis.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.