ToekomsVenster: Goud, wierook en mirre

(Foto: Pexels/Jonathan Meyer)

“En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.” – Mattheus 2:11 (AFR53)

Die drie geskenke wat die wyse manne uit die ooste na Jesus gebring het, is bekend. Goud dui op die Koninklike, wierook op die Goddelike en mirre op die lydensweg wat Jesus sou moes verduur.

Ons kan so fokus op die babatjie in die krip dat ons vergeet dat ons inderdaad met die Messias-koning te doen het.

Die sogenaamde heilsgebeure is onlosmaaklik: die krip en die kruis loop hand aan hand, eweneens die krip, die kruis en die kroon.

Uiteindelik sal hierdie brose lyfie terugkeer in die gestalte van die Koning onder die konings. Hy is inderdaad eenmaal verneder, maar kom as Heerser oor die heelal in die volle sin van die Woord. Die swaarkry wat die teenwoordige tyd kenmerk, sal vir altyd verby wees. Die opstandiges sal die knie onder dwang buig. Die regverdiges, net ʼn ander beskrywing vir gelowiges, sal in ekstase en verwondering Sy almag besing.

Hoe groot is U

Hoe groot is U.

God se ewigdurende vrederyk sal aanbreek. Spiese, swaarde en oorlogswapentuig sal as bruikbare, opbouende instrumente in diens van die Koninkryk van God gebruik word.

Ai, wanneer ʼn mens met die ontstellende gebrokenheid, hartseer en swaar van die wêreld gekonfronteer word, smag ʼn mens na die nuwe dag wat moet deurbreek, die nuwe bedeling wat God belowe, die nuwe môre, wanneer miswolke sal verdwyn en die Son van geregtigheid met genesing in sy strale, die ganse geskape werklikheid, sal verlig.

Goud, wierook en mirre – ons word eweneens geroep om as konings in Sy Naam oor die verkeerde te regeer, om as priesters die grootsheid van God te verwoord, en te identifiseer met mense in hul gebrokenheid.

Die lewe op aarde is immers nie ʼn reis op ʼn plesierboot nie.

Dit is ʼn roeping om die nuwe orde wat aanstons moet aanbreek, die Koninkryksorde, luidkeels te verkondig en te vergestalt.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.