ToekomsVenster: Hartsaluut

hart-liggies-strand

Foto: Fadi Xd/Unsplash.com

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. – 1 Petrus 1:22

Dat ons lewens ingrypend verander word deur die unieke ervaring wat ons tans wêreldwyd beleef, is ongetwyfeld so.

Afstand tussen mense is onnatuurlik omdat ons van nature, ja skeppingsmatig, sosiale wesens is. Ons is op mekaar aangewese en kan nie op die langtermyn sonder mekaar klaarkom nie.

Om mekaar te omhels, ʼn drukkie te gee, te soengroet of ʼn handdruk te ruil is tweede natuur. Dit is soos inbelprogramme op radio. Die eerste reaksie is om te vra hoe dit gaan?

Tog is dit ’n gewoonte, om na iemand anders se welstand te verneem, aftand te oorbrug, belang te stel, warmte met mekaar te deel. Wanneer mense vir mekaar kwaad is groet hulle teensinnig, vra nie na die welstand van die ander persoon nie, is aggressief en die hele lewenshouding getuig daarvan.

Suid-Afrikaners is vriendelike mense en kan kuier. Sonskyn, braaivleis en musiek bind ons kultureel saam. Ons geloof in ʼn onveranderlike God bind ons gelowig saam. Ons verteenwoordig een liggaam en een gees, ook hoofletter Gees, alhoewel ons dit somtyds vergeet.

Nou kom ons gemasker na ander mense toe, handskoene en ontsmettingsmiddel naby. Ons is meer bewus van die bedreiging, as van mekaar. Ons sorg dat daar twee meter spasie tussen ons en ander mense is. Ons laat ʼn stoel of twee oop tussen ons. Ons kyk agterdogtig na mekaar en vermy dit om met mekaar te praat.

Dat hande groet iets van die verlede mag wees, ten minste vir die afsienbare toekoms, is sonder twyfel so.

Dit is waar die mooi gebaar om jou hart as’t ware vas te hou, ʼn beweging van, na jou hart wanneer jy iemand anders sien met wie jy ʼn spesiale verbintenis het, getuig van ʼn innige verbondenheid. Trouens, dit bring ʼn stukkie vernuwing teweeg in, wat dalk terloops, gewoonte en bykans betekenisloos geword het.

Dalk help die virus ons om mekaar nuut te ontdek, innoverend te dink van hoe ons mekaar gaan erken en waardeer. As ʼn mens soek sien jy altyd iets wat waardeer kan word, ʼn gawe selfs te midde van ontsteltenis.

Derhalwe groet ek jou met ʼn beweging na my hart, ʼn oop hand op my bors, hartstaal, ʼn hartsaluut, ʼn hartsverbintenis en verbondenheid.

Die Here seën jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie Ds Pelser vir hierdie mooi boodskap ek groet u ook met ‘n oop hand op my hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.