ToekomsVenster: Hoe groter die uitdaging, hoe groter die genade

Een van die NSRI se pienk reddingsboeie. (Argieffoto)

Ons gesels oor see metafore as ek die woord mag gebruik. Ons kuier by die see en ek sien ʼn hele paar simbole raak wat iets te sê het oor die geestelike lewe, trouens, die lewe as geheel. Ons loop die gevaar dat ons die geestelike iets losstaande tot die lewe wil maak wat dit natuurlik nie is nie. Ons lewens is geïntegreer en die geestelike het effek op elke faset van ons bestaan. Nie soos ons kerk somtyds beleef nie waar net Sondag aan die Here behoort en Maandag tot Saterdag – nou ja!

Op strategiese plekke al langs die strand af is daar pienk reddingsboeie aangebring met aanwysing wat om daarmee te doen sou iemand homself in die water in ʼn noodsituasie bevind. Die kleur is opvallend asook die duidelike aanwysings wat aangebring is. Reddingsboeie vir mense in nood.

Die see is niemand se speelmaat nie en wie weet hoeveel mense het nie al in die moeilikheid beland nie. Die see kan dodelik wees en tensy iemand jou te hulp snel wanneer jy in die probleme het, is jou vooruitsig maar sleg.

Ons het as gelowiges die voorreg, maar ook die verantwoordelikheid om by wyse van spreke, reddingsboeie uit te gooi na mense in nood, geestelike, bestaansnood.

In die “lewens-see” word ons bewus van soveel mense wat die gevaar loop om onder te gaan. Tensy iemand genoeg belangstel en doen wat gedoen moet word kan daardie persoon net nog ʼn statistiek word. Daar is uitkoms, redding en ontkoming moontlik, ongeag hoe donker en negatief ʼn situasie blyk te wees.

Daar is niks en geen plek waar die genade van God ʼn mens nie kan bereik nie. Daar is nie ʼn omstandigheid (sonde) so groot dat God se genade verleë staan nie. Hoe groter die uitdaging, hoe groter die genade by wyse van spreke.

Jou verkeerde keuses, jou opstandigheid, jou sonde, jou geheime lewe is nie vir die Here ʼn verrassing of nuus nie. Hy is reeds daarmee bekend.

Die vraag is net of jy bewus is daarvan dat jy dalk op die punt staan om onder te gaan. Dit hoef nie te gebeur nie.

Daar is ʼn bloedbevlekte reddingsboei wat na jou uitgegooi word. Gryp dit vas en kom op vaste grond. Jy word oorrompel met liefde, deernis en warmte.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here daar is niks maar niks waarmee ek U nie kan vertrou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.