ToekomsVenster: Hoe kyk ons na mekaar?

(Foto: Yannick Pulver/Unsplash)

“‘Vrede vir julle!’ sê Hy weer vir hulle. ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook’.” – Johannes 20:21 (AFR83)

Om hierdie kort reeks wat met menswees verband hou af te sluit, nie alleen die gedagte dat ons nie alleen self mens is nie, ook nie dat ons te midde van 8 miljard mense woon wat die spasie wat ons aarde noem met mekaar deel nie. Daarby ook dat ons mens vir ander mense is.

Dit is ons roeping, ons taak en ons opdrag. Dit is presies wat Jesus bedoel as Hy sê dat ons moet bid dat die wil van God geskied en dat sy koninkryk op aarde gestalte moet kry. Niks minder en niks meer as dit nie.

Dit het baie implikasies maar die essensie is dat ons vir sover dit binne ons vermoëns is die oordaad wat God aan ons skenk moet gebruik om die lewensomstandighede van ander mense wat nood het, te dien.

Die belangrikste nood wat mense het is die nood en behoefte aan die Evangelie. Martin Luther het gevra – waar vind ek ʼn genadige God, en dit is die noodroep van alle mense dwarsdeur die geskiedenis.

God het ʼn ruimte, ʼn vakuum in ons binneste geskep wat net Hy kan vul.

Dis eers wanneer God Drie-enig sy intrek in ons lewens neem, dat ons tot rus kom.

Tot dan bly ons soekers.

Die Bybel vertel die verhaal van die Seun van die mens wat sy bestaan op God gelyke wyse nie beskou het as iets waarvan Hy nie kan afstand doen nie.

Hy het die roepstem van God die Vader beantwoord deur Homself as ʼn versoening vir die ellende van die wêreld aan te bied.

In die volheid van die tyd het Hy op een Vrydagoggend die via Dolorosa gestap.

Hy is geminag en bespot, mense, ja mense, het op Hom gespuug en van Hom ʼn karikatuur gemaak.

Desondanks het Hy die lydingsweg met volharding en oorgawe bewandel.

Daar was geen ander plan nie.

Daar was geen ander uitweg nie.

As die mense, die agt miljard mense wat tans op aarde woon gered moes word, moes iemand wat waardig is namens hul die sondeskuld op sy skouers neem.

Net Jesus het daardie kwalifikasie gehad.

Seun van God en kragtens sy geboorte, mens sonder mense.

Die Evangelie kom egter in konkrete dade na mense toe. Dit help nie ons sê word warm of word versadig maar ons probeer nie in mense se behoeftes voorsien nie.

Bordjies verhang ook soos so baie mense veral sedert pandemie agtergekom het.

Ons is eintlik almal hulpbehoewend. Dan nie aan fisiese middele nie, dan aan geestelik en emosionele ondersteuning, aanmoediging en bystand.

Die Man aan die kruis kyk met soveel empatie na ons.

Hoe kyk ons na mekaar?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.