ToekomsVenster: Hulp is beskikbaar

(Foto: Noah Buscher/Unsplash)

“Die verdruktes sal my lied hoor en bly wees, dié wat by God hulp soek, sal moed skep.” − Psalms 69:33 (AFR83)

Die groter krisis wanneer jou lewe uitmekaar val, is om nie hulp te soek en van hulp gebruik te maak nie.

Jou huwelik vlot nie, jou gesin val uitmekaar, jou werksomstandighede is onuithoudbaar, jou finansies werk lankal nie meer uit nie en jou skuldlas word net groter en groter. Jou innerlike wêreld is in ʼn toestand van verval en jy sien nie meer kans vir die dag nie, maar jy het redes waarom jy nie hulp soek nie.

Wat sal die ander mense van my sê en dink?

Wat van my reputasie, ek is immers self in ʼn professie waar ek mense moet help?

Daar is nie geld nie.

Ek het nie tyd nie.

Ek is te trots om hulp te vra.

Ek is ʼn Christen en behoort in oorwinning te leef. Iets skort met my geestelike lewe.

Jy kan niemand vertrou nie, môre lê my storie die hele wêreld rond.

Soveel moontlikhede, en nie een hou water nie.

Alles verskonings wat bydra tot jou alreeds uitgeputte menswees.

In watter mate onderlê trots jou verskonings? Miskien sal ʼn bietjie eerlikheid dinge makliker maak.

Die lewe waaraan ons deel het, is ingewikkeld en deurmekaar. Die afgelope paar jaar, met die pandemie, was uitmergelend. Vir baie lê die wonde net onder die oppervlak.

Emosies, hartseer, woede en bitterheid, opstandigheid en selfbejammering is hoegenaamd nie na behore aangespreek nie.

Covid-19-pandemie is vir alle praktiese doeleindes verby, behalwe vir jou. Jy leef steeds in afsondering, jy kry nie suurstof nie en sukkel om emosioneel en geestelik gesproke asem te haal.

Waarom swaarkry? Waarom jouself verder straf? Daar is hulp beskikbaar. Daar is mense wat omgee.

Begin by jou plaaslike gemeente. Hulle kan jou help of verwys.

Die lewe is nie verby nie.

Kry die suurstofmasker op jou gesig en begin weer asemhaal.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.