ToekomsVenster: Hy het jou lief

(Foto: Ben White/Unsplash)

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. – 2 Korintiërs 10:4-5

’n Mens kan nogal verbouereerd raak as jou gedagtes op vreemde paaie loop. Soos vroeër gesê, ’n mens skrik somtyds vir die dinge wat jy dink. Waar kom dit vandaan en hoe is dit moontlik dat ek as kind van God sulke dinge kan bedink?

Tog gebeur dit met ons almal, niemand is daarvan uitgesonder nie. Dit is wat ons met die gedagtes maak wat bepalend is. As kinders van die Here wil ons gehoorsaam en in God se verheerliking lewe.

Daar is stories waarmee ons grootgeword het en wat ons as waar vir ons lewens aanvaar.

Taktlose uitlatings wat oor ons uitgespreek is deur ’n gesagsfiguur, jou ouers, versorger, jou onderwyser, ja selfs ’n vriend of vriendin. Vreemd maar waar; dit is so dat ons eerder die negatiewe as waar sal aanvaar eerder as om dit teen te spreek.

Wat dan met jou gebeur bevestig doodgewoon wat jy reeds van jouself glo: “Ek is nie goed genoeg nie, ek verdien nie liefde en aanvaarding nie, ek is minderwaardig, ek is dom, onnosel en onaantreklik en ek kan niks reg doen nie”.

Hierdie onheilsprofesieë kry vashouplek in ons lewens en voor ons onsself kry, is ons in die diepste ellende.

Ons leef uit wat van ons gesê is, ons doen aan onsself wat aan ons gedoen is.

Die teks praat van vestings. Vestings is vashouplekke, die negatiewe kleef verbete daaraan vas en wil nie sy greep losmaak nie. Dit is eers wanneer jy kies om te luister na wat God van jou sê en dit as waar vir jou lewe aanvaar dat daar ’n verandering kom.

Watter leuens is oor jou uitgespreek?

Die waarheid is dat God jou oneindig lief het, ’n uitnemende plan met jou lewe het en ’n groot drome oor jou droom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U my in U volmaakte liefde vashou en na elke struikeling weer ophelp……Lof eer en dank kom U alleen toe..Amen

Alet ·

Ek het vandag hierdie dagstukkie spesifiek opgesoek omdat ek dit nodig gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.