ToekomsVenster: Hy het my gesalf vir diensbaarheid

wit-duif

(Foto: @awmleer/Unsplash.com)

“DIE Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ʼn blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes  vrylating uit te roep en vir die geboeides, opening van die gevangenis.” – Jesaja 61:1 (AFR53)

Wat ʼn merkwaardige teks! Uiteraard het dit in die eerste plek betrekking op Jesus, God se Gesalfde.

Sy lewe is inderdaad gekenmerk deur die kwaliteite en dienswerk wat in die teks vermeld word. Sy bediening het die lewens van mense geraak, dit het genesing, herstel, hoop, perspektief en lewe gebring.

Ek kan nie dink aan ʼn plek in die Bybel waar Hy verwyt word dat hy iemand op ʼn dwaalspoor gelei het nie. Niemand kon van Hom sê dat hy nie ʼn navolgenswaardige voorbeeld gestel het nie.

Trouens, Hy stel deur sy lewe die standaard so hoog dat ons sonder twyfel weet dat ons nie eers naby daaraan kan kom nie. Onselfsugtig en dienend, altyd, voortdurend, ja selfs tot die laaste druppel bloed toe.

Die Gees het inderdaad op Jesus gekom tydens sy doop deur Johannes. Dit is moeilik om te verstaan hoe die Drie-eenheid ook tydens hierdie geleentheid verstaan moet word. Vader, Seun en Heilige Gees is Een. So maak Hy homself aan ons bekend.

Tydens dié geleentheid betuig die Vader sy tevredenheid en trots met sy Seun:

“Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug. Luister na Hom.” – Matteus 17:5

Johannes getuig later dat Hy die Gees van God soos ʼn duif sien kom het en op Hom (Jesus) gaan sit het.

Die duif is ʼn simbool van die Heilige Gees. Misterieus, onverstaanbaar asemrowend wonderlik. (Lees meer hieroor in Johannes 1:15-39.)

Ja, ons kan nie op die wyse wat Jesus opereer het funksioneer nie. Ons worstel te midde van ons Christenskap dikwels met eie belang, vooroordeel en vrees.

Tog wil die teks wat bo aangehaal is ons eweneens verseker van die bemagtigende werk van die Gees van God wat in ons woon.

Wat in eie krag vermag word, is vleeslik, van verbygaande aard, tydelik.

Wat in Sy Naam, in die kragveld van die Gees gedoen word, het ewigheidswaarde.

Dalk wil jy sommer nou saam bely: Die Gees van die Here is op my en Hy het my gesalf vir my dienswerk vandag.

Hierdie is die laaste ToekomsVenster-oordenking vir 2023. Nuwe oordenkings sal vanaf Maandag 15 Januarie 2024 beskikbaar wees. Geseënde Kersfees en voorspoed vir die Nuwejaar.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.