ToekomsVenster: Hy sal vir jou sorg

(Foto:
Priscilla du Preez/Unsplash)

“Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.” – Psalm 55:23

Dit is een ding om dié teksvers te lees en iets anders om jouself totaal daarop te verlaat. Die lewe is nie maklik nie en die Bybel beloof ook nie ʼn lewe sonder uitdagings nie. Wat die Bybel wel belowe is dat wanneer ons deur die water moet gaan, sou dit gebeur, dit ons nie sal oorweldig nie. Die Bybel beloof ook dat die vlamme ons nie sal skroei as ons deur die vuur moet gaan nie. Gaan lees gerus Jesaja 43:2.

Die lewe gebeur, punt. Jy kom nie daarvan af weg nie. Dit is ʼn gegewe. Goeie en minder goeie dinge gebeur ook met die kinders van die Here. Ons is nie daarvan gevrywaar nie, maar ons kan reken en staatmaak op die Here se beskerming en Woord.

“Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou’.” – Psalms 91:1-2

Die teks verkwalik nie die mens wat sorge het nie. Dit is ten ene male deel van ons bestaan op aarde.

Te midde van alles sorg die Here vir die regverdige.

Regverdiges is nie ʼn ander kategorie Christene nie. Ons, die verloste kinders van die Here, is regverdig verklaar deur die offer wat Jesus aan die kruis gebring het. Dit is ons status voor God, ʼn genade status maar inderdaad wat God van ons sê. Regverdiges, opregtes, koninklike priesterdom en gunsgenote.

Beteken die feit dat God sorg dat jy geen verantwoordelikheid hoef te neem vir die lewe nie?

Uiteraard nie. God roep ons om op ʼn gelowige wyse inhoud te gee aan ons bestaan op aarde. Elke mens moet sy of haar roeping gelowig probeer onderskeie en definieer. Die Heilige Gees rus ons daagliks toe om daarmee besig te wees. Te midde van dit alles sorg die Here. Dit laat my aan daardie pragtige seënbede dink.

Die Here – Seënbede van die vroeë kerk:

“Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die bose te verslaan.

Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.