ToekomsVenster: In alles loop Hy voor

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

“Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” – Johannes 1:16 (AFR83)

“Alles, alles is genade onverdiende guns alleen”. So klink een van die liedere wat ons entoesiasties sing, maar die praktyk wys daarop dat ons graag self wil presteer. So amper asof God sal sê: “As ek jou misloop verloor ek iets besonders. Jy het soveel om aan te bied”.

Ons het niks om aan te bied nie, wat nie beteken dat ons waardeloos of sonder betekenis is nie. Ons is beelddraers van die lewende God en dit is merkwaardig, wonderlik. Ons verteenwoordig Hom in hierdie wêreld, maar in alles loop Hy voor.

God is die Inisiatiefnemer by uitnemendheid.

As Hy nie ons harte voorberei nie, kan ons die saad van die Evangelie nie ontvang nie. Dan val die saad soos in die gelykenis waar dit nie kan groei nie. Die feit dat die saad op goeie grond geval het in my lewe het niks met my te doen nie, maar alles met God.

Dit behoort my en jou buitengewoon dankbaar te maak en tot entoesiastiese lofverheffing aan te moedig. Dan staan ek nie gevoude arms in die erediens en wag dat die preek aanbreek nie, maar fokus op die Een wat alles prysgegee het terwille van my. Hom dank, loof en aanbid ek.

So wie is ek in die verhouding?

Ek is ʼn aangesprokene, geadresseerde.

Hy praat en ek antwoord.

Sommige mense wat hier lees mag aanstoot neem. Ek is jammer daaroor, maar God praat altyd eerste.

Hy praat eerste in die skepping en die herskepping. Hy praat eerste in die sakramente, ek kan nie daaraan my eie inhoud gee nie. Hy kom na my met vele, ja, ontelbare liefdesbewyse. Ek kan daarop net dankbaar antwoord en in dankbare toewyding reageer.

Ek wil dit weereens onderstreep dat dit ons nie tot passiewe toeskouers reduseer nie. Inteendeel, God nooi ons uit om (dit is Koninkrykswerk) te kom aansluit met dit waarmee Hy in hierdie wêreld besig is.

Hy is lankal besig − in Suid-Afrika, China en Japan. Hy is werksaam in Rusland, Zimbabwe en Noord-Korea.

Hy nooi ons uit om in gebed of hoe ook al by Hom aan te sluit en die avontuur van die lewe aan te durf.

In alles is God eerste!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U self die spoor gemaak het waarop ek kan volg…vir U het ek so lief. ….vergewe Here asb my ongeloof…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.