ToekomsVenster: Is dankbaarheid deel van jou geloof se DNS?

(Foto: Joshua Reddekopp/Unsplash.)

“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” – 1 Tessalonisense 5:18 (AFR53)

Geliefdes ons gaan hierdie week gedagtes oor dankbaarheid ondersoek. ʼn Dankbare mens is ʼn mooi mens. Ondankbaarheid en onvergenoegdheid is nie altyd aangenaam om aan te hoor nie. Ook in jou eie lewe bring dit jou niks nader aan ʼn oplossing of antwoord op jou vrae nie.

Soos telkemale al gesê, kontekste is nie altyd positief nie. Dit geld vir ons eie persoonlike konteks, maar eweseer vir die baie onsekerhede waaraan ons in Suid-Afrika onderwerp word. Trouens, die wêreld is ʼn deurmekaar plek en dit kan ʼn mens diep ontwrig. Sommige van ons is boonop meer sensitief as ander, en die trauma van die wêreld kan geweldig ontstel.

My kollega het op ʼn onlangse Sondag ʼn pragtige boodskap gelewer oor dankbaarheid. Daarin vertel sy die volgende verhaal en ek gaan dit met jou deel.

ʼn Oupa, boer van beroep, het die gewoonte om saans tydens aandgodsdiens ʼn hele lysie van dinge waarvoor hy dankbaar is in sy gebed te noem. Dit gebeur net voor aandete wat kinders en kleinkinders ietwat frustreer. Immers, die belofte van wat voorgesit gaan word hang reeds swaar in die lug. Boonop is ouma ʼn bo-baas kok.

Die dankbaarheid-lysie groei by die dag en saans neem dit al hoe langer om by eet uit te kom. Van die kleinkinders raak selfs aan die slaap voordat hulle iets te ete gehad het.

Toe gebeur ʼn vreeslike ding. Die een ramp na die ander tref die boer.

Weerlig slaan ʼn aantal beeste dood. Die stoor brand tot op die grond af en van die landerye loop erg deur weens die storm wat gewoed het. Boonop is ʼn klompie skape soek en die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat dit gesteel is.

Almal wonder hou hulle oupa vanaand sy dankbaarheid-lysie gaan verwoord. Hy stel nie teleur nie. In sy gebed sê hy: “Here, dankie dat alle dae nie soos vandag is nie”.

Dit illustreer iets van iemand wat dankbaarheid in sy lewe geïntegreer het. Dit is nie ʼn kosmetiese aangeleentheid nie, maar deel van sy geloof se DNS.

Daar is inderdaad altyd iets om voor dankbaar te wees. Immers, jy lees en luister na die woorde van hierdie voordrag. Is die gawe van sien en hoor nie reeds genoeg stof tot oorvloedige dankbaarheid nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.