ToekomsVenster: Is Jesus nog eerste hier?

Foto: Pixabay

“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” − Johannes 14:6 (AFR53)

ʼn Hele paar jaar gelede was daar ʼn lied wat die rondte gedoen het waarin die afwesigheid van sekere goed besing, dalk beklae, is. ʼn Braai sonder ʼn tjoppie en ʼn koei sonder spene kom onder die loep. ʼn Kaptein sonder ʼn skip en “ek sonder jou” is van die dinge wat sorg vir ʼn groot gemis. Die lied se naam is “Heeltemal niks” en om die waarheid te sê , ek dink nie die lied het veel indruk gemaak nie.

Die van ons wat effens wyser is (en ouderdom het daarmee niks te make nie) sal die skilderye in ons grootouers se huis onthou waarin die woorde “Wat is ʼn huis sonder ʼn moeder” gepryk het. Ons sal in ons dag van Eskom sonder elektrisiteit kon weeklaag. Heeltemal niks inderdaad, honderd jaar oud maar klaarblyklik nou te grys om sy mandaat uit te voer.

Mag ek die gedagtes binne kerk- en gemeente verband aktualiseer hierdie week. Mag ek verder deurgaans die term kerk gebruik net terwille van saamgesels.

Ja, die kerk is die Here se eiendom en Hy het sy lewe daarvoor afgelê. Die kerk, veral binne denominasies se verband, word in en deur gemeentes verteenwoordig. Die veelheid van denominasies weer konstitueer die kerk binne groter verband. Ek plaas alles onder een gemeenskaplike noemer en opskrif.

Die vraag vandag is; wat is die kerk sonder Jesus?

Die kerk onderskei opsigself van ander geloofsgroeperinge deur die prominente plek wat Jesus inneem.

In alle gelowe word van God en die Godheid gepraat. Alle gelowe glo in God.

Christene glo in die God van die Bybel. Ons deel die Ou Testament met twee ander wêreld-godsdienste. Die een verwerp die Messias wat in die volheid van die tyd gekom het. Die ander maak van Jesus ʼn belangrike profeet, maar nie die Seun van God, en ook self God, nie.

Daar is tientalle splintergroepe wat Jesus ʼn plek gee, maar dis nie die Jesus van die Bybel nie. Die Jesus van die Bybel is die ewige Seun van God, en self ook God. Die een wat aarde toe gekom het en sy lewe vir ons afgelê het, gebore uit ʼn maagd, en wat terwyl Hy geleef het die Evangelie aan mense gebring het waarvan Hyself die fisiese vergestalting was.

Die vraag is egter in watter mate Jesus nog prominent in ons teologie en prediking staan?

Sou verlede Sondag se boodskap net so welkom wees in plekke waar Jesus erken en bely word?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Atta ·

My ondervinding is dat baie min Christene weet wat die Evangelie is. Meeste het net ʼn gedeelte van die Evangelie beet, gewoonlik die gedeelte wat oorleun na die kant wat vir hom óf sin maak óf die aanloklikste klink. Die dele wat nie verstaan word nie of wat problematies is word verwerp en dan sit jy met ʼn halwe Evangelie wat jou nie kan red nie. Die skuld daarvoor lê eerstens by die leraars wat ʼn verwaterde Evangelie verkondig omdat hulle bang is dat hulle lidmate sal verloor. Maar dit lê ook by die individu wie leraars wil hê wat hulle ore kan streel.

Fluisterwind ·

Christus Jesus se ere posisie hang nie van ons denke af nie. Die vraag behoort eerder te wees of ons Hom met ons hele lewe vertrou. Christus verseker elkeen wat bely dat Hy die Seun van die lewende God is: “,en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Daar bestaan dus nie ‘n ware kerk sonder Jesus nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.