ToekomsVenster: Jesus voor die Joodse Raad

grassade-voor-water

Foto: Aleesha Schmidt/Unsplash.com

Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom. Petrus het op ‘n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ‘n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie. Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ‘n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie. Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra. “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?” Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!” Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ‘n bietjie!” Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat. – Markus 14:53-65

Jesus verweer Homself nie teen die valse getuienis wat gelewer word nie. Waarom sou Jesus dit nie probeer weerlê nie? Hy is tog Waarheid in Persoon, teen sy redevoering sou die beste aanklaer en regter nie kon staande bly nie. Is Jesus dan ʼn slagoffer van leuens en verraad en onregverdigheid?

Dis moeilik om die lyne bymekaar te trek. Dat wat hier gebeur radikaal onaanvaarbaar is, is sonder twyfel waar. Trouens, die teks sê die skrifgeleerdes probeer nog ʼn aanklag teen Jesus formuleer. ʼn Klomp mense is aangesê om valse getuienis teen Hom te spreek. Hul getuienis stem egter nie ooreen nie. Ander vertel in ʼn mismaakte weergawe wat Hy van die tempel gesê het. Ook daar stem getuienis nie ooreen nie. Jesus bly egter stil.

Die Jesaja teks vertel profeties vooruit dat Jesus stil is voor sy aanklaers.

Jesaja 53:7 – Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.

Hy is stil omdat Hy weet dat sy Vader in beheer is. Dat ʼn Goddelike noodwendigheid hom hier afspeel.

Petrus is een van die hoofkarakters in die drama. Hy staan by ʼn konka en warm word, nuuskierig om te sien hoe dinge gaan afloop. Die ander dissipels is oënskynlik soek.

Dan die vraag wat Jesus nie kan ontwyk of ignoreer ni: “Is jy die Seun van God?”

Jesus weet dis al wat die waansinnige geestelikes nodig het om Hom te oordeel. Godslastering is met die dood strafbaar. Jesus kan nie hieroor stilbly nie. “Ek is” sê hy.

Sy woorde resoneer in die hemelse ruimtes, die demone buig in ootmoed, die duisternis word geskud, die bose retireer. Hy is die Seun van God aan wie die lof toekom. Meer as dit, die Een wat verhoog sal word tot ʼn posisie van heerlikheid, wat aan die regterhand van die Vader plek sal inneem en elke stukkie ongeregtigheid wat nie onder die bloed is nie, sal oordeel.

“Genoeg,” bulder die geestelikes. “Hy verdien die dood”. Nee, óns verdien die dood. Hy het net gesê wat van alle ewigheid af waar is. Dit is ons wat in opstand is.

Wat is jou belydenis aangaande Christus? Ken eer en dien jy Hom as die Koning onder die heersers aan wie die lof toekom?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Here Jesus U ken elke onuitgesproke woord… U ken ons harte……dankie vir die onskatbare verlossings daad… ek eer U as die opgestane Heer ons Redder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.