ToekomsVenster: Julle moet luister

lamp-latern

Foto: Randy Fath/Unsplash.com

Hy het vir hulle gesê: “’n Lamp kom mos nie onder ‘n emmer of onder ‘n bed nie? Is dit nie bedoel om op ‘n staander gesit te word nie? Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!” – Markus 4:21-23

Jesus se woorde sny diep. Die vrug van gehoorsaamheid is eksponensieel. Die opbrengs is buite verhouding. Jy ontvang meer as wat jy redelikerwys sou kon verwag. Die teenoorgestelde is egter ook waar. Wie in ongeloof saai staan die kans om meer as waarop hy gereken het te verloor.

Lukas 6:38 – Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.

Jesus sluit op ʼn manier by die gelykenis van die saaier aan. As iemand ore het en kan hoor moet hy luister. Daar is ʼn kwalitatiewe verskil tussen hoor en luister. Miskien in die voorafgaande gelykenis het slegs die laaste groep waarvan melding gemaak word geluister. Dit beteken dat hulle die woord met die nodige erns bejeën het en deel gemaak het van hul lewens.

Dis dieselfde oproep wanneer Jesus se “Gee aandag aan wat julle hoor”. Maar erns daarmee. Elkeen wat kan hoor moet hoor, luister.

Ons leef in ʼn tyd van ontstellende korrupsie, leuens en bedrog. Die “ou mense” het gesê die waarheid het altyd ʼn manier om uit te kom. Lyk my die Skrif onderstreep hierdie beginsel. Daar is niks geheim wat nie geopenbaar sal word nie. `ʼn Mens moet so lewe dat wanneer iets bekend word jy jou nie daaroor hoef te skaam nie.

Die lig verlig ook jou eie wese. As die lig jou duisternis vertoon is jy verleë en ongeloofwaardig. Derhalwe sê die Bybel – leef so voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is kan verheerlik.

Skyn jou lig vir almal rondom jou.

“Soos ʼn sterretjie in die donkernag laat ons skyn, laat ons skyn. Laat ons skitter soos die helderglans.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.