ToekomsVenster: Ken ek en jy ons plek?

bybel-studie-man-sit

(Foto: Ben White/Unsplash)

Johannes 1:26-27 – Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

Ken ek en jy ons plek voor God. Johannes ken sy plek. As gestuurde is hy nie aanmatigend en selfbehep nie. Dit gaan nie oor die wegbereider nie maar oor die Een wat kom. Die kollig is nie op die aarde nie maar op die hemel. Die welsprekendheid van die aankondiger maak geen verskil nie. dit is nie sy boodskap nie maar die boodskap wat gebring word. Johannes is ʼn boodskapper en niks meer nie. Hy is ook niks minder nie.

Ons word geroep om in die woestynkonteks van die heersende God afvallige kultuur die aankondiging te doen. Daar is die Lam van God. Luister na Hom soos die Vader stellig verklaar het by die doop van sy Seun. Dit is my geliefde seun in wie ek ʼn welbehae het. Luister na Hom. Hy het die antwoord. Hy is die antwoord. Rig julle oë en harte op Hom. Hy hou die toekoms in sy hand.

Die arrogansie van wêreldheersers skreeu ten hemel. Ek verbaas my aan die optrede van mense in verantwoordelike posisies. Die kollig is volledig op hulle en wee die een wat dit probeer wegneem. Selfs al word jy deur ʼn stemming ontsetel weier jy om jou posisie prys te gee. Jy hou verbete vas aan gewaande mag. Dit gee dikwels aanleiding tot bloedvergieting en geweld. Volke word in burgeroorloë gedompel en tienduisende mense verloor hul lewens. Net omdat iemand nie sy mag wil prysgee nie. Net omdat beheer  ʼn mens so volledig in beslag neem. Dit is soos ʼn dwelm en as jy dit eers in jou stelsel het, beïnvloed dit jou eie lewe en die van ander.

Miskien, sonder om  ʼn minderwaardigheidskompleks in die plek voor te stel, moet ons almal ʼn stewige dosis van Johannes se woorde en perspektief inkry: “Ek is dit nie werd nie”.

God verhoog die nederige maar Hy weerstaan hoogmoedige mense. Jesus se getuienis oor Johannes was heeltemal anders: “Onder die mense is daar niemand groter as Johannes nie”.

Maar laat God jou erkenning toeswaai, moenie dit by mense soek nie. As jy en ek in ʼn posisie van invloed en mag is is dit aan ons toevertrou om met die grootste verantwoordelikheid denkbaar te bestuur. Mag die Here ons help.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Byekonfyt ·

Wat ‘n lafenis vir my siel nadat ek die wêreld se nuus gelees het. Dankie vir die perspektief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.