ToekomsVenster: Kiekies uit die geheue

(Foto: Denise Jans/Unsplash)

As ʼn mens daarop ingestel is, is daar merkwaardige oomblikke om te beleef in elke dag.

Die sonsopkoms en -ondergang, reëndruppels op die moeë grond wat spore in die stof laat, die gejuig van die voëls vroegoggend, die beweging van die wind deur die blare.

Kinders wat onbesorg speel, jongmense wat verlief is en van die wêreld vergeet, ou mense wat handjies vashou, die vonkelende sterrehemel wat ʼn glasie klink op God se handewerk. Die bruidspaar wat die baan open, liefde wat uitdrukking vind.

ʼn Noemenswaardige preek, ʼn skaam meisie wanneer ʼn seun belangstelling toon.

Die giggel van maatjies wat oor pa en ma se skandes vertel.

Die babatjie wat ten doop gebring word, tieners wat belydenis van geloof aflê.

Bekwame musikante wat lof en aanbidding lei, talente wat die beoordelaars op America’s Got Talent se asems wegslaan.

Wilgertakke in die stroomversnelling, vinkieneste in die wind, die groot vyf wat ʼn mens laat klein voel, ʼn trotse kiewiet op haar nes.

Meneer en juffrou voor hul klas, ʼn dosent wat weet waarvan hy praat.

My kinders en kleinkinders as hulle kom kuier, my vrou as sy langs my wakker word, die reuk van koffie as ons die dag begin, die gereelde Saterdag-Bybelversie van my vriend André in Skotland en kollega Wimpie wat spontaan bel.

Aan die slaap raak en wakker word, keteltjie langs die pad kook as ek en die seuns gaan stap.

Gesels om die vuur en my verlustig in die jongmanne se stories.

God wanneer Hy vir my glimlag, sy Vaderhand deur my hare streel, my omhels in sy liefde, my verseker dat alles sal uitwerk.

Ek noem dit sommer geheue-kiekies.

Ek neem foto’s in my gemoed en bêre dit vir ʼn ander dag.

Dis kosbare oomblikke, geleenthede, gawes wat nooit weer net so herhaal sal word nie.

Dis eenmalig, daar mag soortgelyke oomblikke wees – maar dit is nie presies so nie.

Kiekies wat getuig dat die lewe die moeite werd is.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marietjie ·

So so waar. Ons soek soms groot wonderwerke en in werklikheid is die klein wonderwerkies groot pitkos vir jou siel. Dit bring soms die mooiste en verrkende uitkoms in ‘n baie seer situasie.

Dankie Here vir die klein dingetjies wat ons vanselfsprekend aanvaar en nooit voor dankie sê nie. Vergewe ons. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.