ToekomsVenster: Kies die lewe

liggies-glas-strand

(Foto: Andrew Bui/Unsplash)

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee. – Deut. 30:19-20

Daar is merkwaardige gedeeltes in Deuteronomium 28 waar die onbeskryflike goedheid en voorsienigheid van God beskrywe word.

Ek verwys jou graag na die teks maar voordat ons hierdie uitgebreide gedeelte saamlees, wil ek net eers vra dat jy jou eie hart ondersoek.

Het ons dalk so sinies geraak oor die lewe dat ons hoor, maar nie glo nie, dat ons die seëninge wat God in sy Woord voorhou met vele verskonings en voorbehoude kwalifiseer?

Wanneer mens dit lees kan dit gebeur dat jy summier die belofte kwalifiseer: “Dit mag waar wees,” sê jy vir jouself, “maar…” en dan skop al die voorbehoude, kwalifikasies, omstandigheidsfaktore en teleurstellings in. Aan die einde is dit net woorde op papier.

Niks daarvan word toegeëien nie en niks word daadwerklik geglo nie.

Dit mag uit die Ou Testament wees, maar nêrens word die gesag van hierdie betrokke gedeelte van die Bybel opgehef nie. Dit mag van toepassing wees op Israel, maar ons is die ware, geestelike Israel. Dit mag onderhewig wees aan gehoorsaamheid, maar dit het nog nooit verander nie. Dit mag “verbondstaal” wees, maar ons is God se nuwe Testamentiese verbondsvolk.

Ek bid vir ʼn stukkie geheiligde naïwiteit wat ons daartoe sal bring op die Woord soos dit daar staan te omhels en te integreer.

Luister dan nou met ʼn oop en ontvanklike gemoed saam met my na wat die Here in sy Woord belowe:

2 – As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

3 – Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

4 – Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

5 – Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

6 – Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

7 – Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

8 – Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.

9 – As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met ‘n eed aan jou beloof het.

10 – Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou.

11 – Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met ‘n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee.

12 – Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.

13-14 – As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.

Mens kan daarop op geen ander manier reageer as ʼn dankbare, entoesiastiese “amen” en “dankie” Here nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.