ToekomsVenster: Kinders bly ons verantwoordelikheid

(Foto: Juanita Badenhorst)

Ek is gaande oor kinders. Daar is min dinge so mooi soos ʼn kindjie. Klein grootmensies. Alles is daar, geprogrammeer, gegee, voorsien.

My kennis van fisiologie is baie beperk, maar laat ek dit waag. Die lyfie met alles wat nodig is om te beweeg, te speel, te beleef, is daar. Die hart, longe, niere en ander bykomstighede is ook daar. Die potensiaal om te leer, te groei, te wees, is reeds daar.

Dis ʼn pakkie genade, dis ʼn toegedraaide geskenk wat met verdrag oopgemaak moet word. ʼn Mens moenie oorhaastig wees met ʼn kind nie. Kinders moet kinders wees.

Sorgvry, opgewonde en blinkoog. Kinders moet versorg wees, ge-kombers in liefde teen die koue van die lewe wat eweneens stukkie vir stukkie en met groot verantwoordelikheid aan hulle blootgestel word.

Kinders is klein grootmense in die sin dat alles wat nodig is om God se plan later met daardie lewe te bereik, teenwoordig is.

Tog moet dit ontsluit word, stukkie vir stukkie en een tree op ʼn slag.

Ek sien te veel kinders wat huil. In hierdie gebroke wêreld waarin ons leef moet ons jaloers waak oor ons kinders. As jy aan my kind vat, vat jy aan my.

Meer nog, as jy aan kinders vat, vat jy aan God. Immers, Hy het gesê, laat die kinders na my toe kom en verhinder hulle nie, want aan hulle behoort die Koninkryk van God.

Hy het gesê as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nie die Koninkryk beërwe nie.

Dat kinders wêreldwyd verinneweer word, is ʼn rekening wat in die ewigheid voor ons deur gelê sal word.

Wat het ons gedoen om kinders te beveilig? Het ons gepraat toe ons moes? Was ons daar waar besluite oor hul lewens gemaak word, somtyds deur mense wat geen belang by kinders het nie? Waak ons oor wat hulle hoor en sien en beleef en ontdek?

Suid-Afrika se kinders is ons gesamentlike verantwoordelikheid. Ons mag hulle nie versaak nie.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.