ToekomsVenster: Kom ons ontmoet mekaar as volronde mense

(Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

Ek het verlede week aan ʼn radiogesprek deelgeneem wat gehandel het oor seksualiteit en moraliteit. Die ander gespreksgenoot was prof. Christina Landman vir wie ek baie respek het.

Luisteraars kon boodskappe stuur met vrae en opmerkings. Hier en daar was daar ʼn snaaksigheid, maar een bekommerde luisteraar het beswaar gehad dat so ʼn onderwerp hoegenaamd oor die radio bespreek word.

Dit mag wees dat jy dieselfde gevoel het en voel dat die onderwerp liefs vermy moet word omdat dit intens persoonlik is. Daarmee wil ek absoluut saamstem, seksualiteit is ʼn persoonlike aangeleentheid en omdat ons met mense te doen het, behoort dit altyd met deernis, respek en medemenslikheid bespreek te word.

Feit van die saak is dat die Bybel sommer baie te sê het oor hierdie belangrike faset van menswees. Uiteraard is dit net ʼn faset en my bekommernis is dat ons ander mense somtyds reduseer tot die een dimensie van menswees.

Dit is myns insiens onredelik – ons is immers liggaam, siel en gees. Ons is sosiale, intellektuele, liggaamlike, geestelik sensitiewe wesens. Ons is beelddraers van God en dit in alle opsigte.

Eintlik gaan hierdie waarhede ʼn mens se verstand te bowe. Gesante, ambassadeurs in die volle uitlewing van ons mensheid.

Reeds met die skeppingsverhaal is die grondslag van die seksuele gelê. Adam in sy alleenheid kry nie iemand met wie hy in alle opsigte resoneer nie. God in sy almag, maar ook in sy deernis, soek die geselskap van Adam op en hoor sy versugting na iemand wat die lewe as gawe van God met hom kan deel. Eva vervul daardie rol en vennootskaplik raak hulle besig met die taak wat God gegee het.

Deel daarvan is om vrugbaar te wees en kinders in die wêreld te bring. Kinders baar is egter net een faset van hierdie hemelse gawe. Dis kameraadskap, omgee, sagtheid, diensbaarheid en medemenslikheid, ja, liefde wat op konkrete wyse tot uitdrukking kom.

Om mense tot seksualiteit te reduseer is onredelik. Ons is nie ons seksuele oriëntasie nie, ons is mense. Ek bedoel dit in oordragtelike sin. My identiteit is in Christus, nie in my seksualiteit of enige ander faset van menswees nie.

Mag ons mekaar die stereotipering, die slegsê, die verdagmakery verskoon. Mag ons mekaar as volronde mense ontmoet.

Immers, God is nie met een van ons klaar nie.

Kom ons vertrou God met elkeen se reis.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Sjoe, Jannie, uiteindelik iets gekry waarin ek dramaties van jou verskil…. jou opinie oor Christina.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.