ToekomsVenster: Mag die vlam van herlewing hoog brand

(Foto: M.T ElGassier/Unsplash)

“O Land, land, land, hoor die woord van die Here!” − Jeremia 22:29 (AFR53)

Die Woord van die Here is lewendig en kragtig. Ek word somtyds kortasem as ek luister hoe direk, dringend en deurdringend die Woord na ons toe kom. God is ʼn barmhartige en liefdevolle God.

“Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.” − Psalms 130:4 (AFR83)

Maar die Woord is ʼn tweesnydende swaard wat ons diepste bedoelings blootlê.

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ʼn beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” – Hebreërs 4:12 (AFR53)

Ons lewens lê oop en bloot voor Hom. Die gedagte is vreesaanjaend as ʼn mens iets van die Here probeer wegsteek. Dit is egter bevrydend as jy juis daarin jou troos vind. Hoe nutteloos is dit nie om te dink dat jy iets vir die Here kan verbloem nie. Hy ken ons diepste gedagtes en oortuigings.

“Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur.” − Psalms 26:2 (AFR83)

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.” − Psalms 139:2 (AFR53)

In Kentucky in die VSA is daar tans herlewing op verskeie kampusse, vernaam die van die Ashbury Universiteit. Spontane lofprysing, aanbidding en skuldbelydenis is die kentekens van hierdie Heilige Gees-gedrewe herlewing. Dit is reeds sedert 8 Februarie aan die gang en is, volgens wat ek verstaan, steeds besig.

Besoekers van oor die hele streek besoek die plek waar die studente in groot getalle besig is en bly met die aanbidding van die Here. Hulle getuig van die sagte teenwoordigheid van die Heilige Gees. Met hulle terugkeer word die vlam van herlewing na hul eie gemeenskappe geneem.

Ons het herlewing nodig. Dit begin met die kringetjie rondom onsself as individue.

Ons het nie herlewing nodig terwille van Suid Afrika nie. maar terwille van God se eer. Dat herlewing nie anders kan as om die gemeenskap te infiltreer en verander nie, is gewis so.

Mag dieselfde vlam ook hier by ons aangesteek word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here help my om deur U oe te kyk na die stukkende wereld om my….My hoop is in U gesetel al wil die wereld my anders laat glo..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.