ToekomsVenster: Mag ons nederigheid hê

blomme-hande-pezibear-pixabay.jpg

Foto: pixabay/pezibear.com

“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.” – Efesiërs 1:14 (AFR83)

Een van die vernaamste kwaliteite wat Christene behoort te hê, is nederigheid. Ons weet nie alles nie, trouens, ons weet nagenoeg niks. Dit wat ons weet is baie minder as dit wat geweet kan word. Ons kyk soos ʼn spieël in ʼn raaisel, eendag sal ons alles weet maar nou is ons soos blindes vir wie die lig af en toe deurbreek. (1 Korintiërs 13)

Wat God in Christus openbaar het, is ten dele. Ons weet genoeg om deur Christus Jesus met God versoen te word. Ons weet genoeg om te streef na ʼn heilige lewe.

Genoeg is geopenbaar dat ons die Christus karakter kan onderskei en daarna kan streef.

Ons kan God egter nie dissekteer soos op ʼn operasietafel nie. Ons kan Hom nie verklaar en selfs verdedig nie. Hy het nie verdediging nodig nie. Hy is God, algenoegsaam, soewerein, alwetend en alomteenwoordig. Ons is klein, gering, tydelik en van stof gemaak, maar ons is belangrik genoeg dat Hy ons eerste liefgehad het. (Jesaja 40:18)

Paulus sê ons het nog net die eerste paaiement ontvang.

Die deposito is mos tradisioneel die kleiner gedeelte van die koopsom. In praktyk betaal jy ʼn klein deposito maar die res word met rente terugbetaal. Dis nou as jy iets koop.

Nou is ons gekoop, God het ons gekoop, vrygekoop van die sonde en die bose in wie se greep ons was.

Slawe van die sonde, noem Paulus ons.

Nou egter het alles verander en het ons erfgename en mede-erfgename geword van die groot genade wat God vir ons bestem het.

Wat ons ontvang het, in die woorde van Psalms 16, mooi, spesiaal, kosbaar en uniek, is maar nog net die deposito!

Die res is uitstaande en sal eendag ons deel word wanneer ons finaal van hierdie werklikheid verlos word.

Tot dan is die deposito so merkwaardig dat ons uitsien na dit wat uitstaande is.

Wat die oog nie gesien het nie en wat in die gedagtes van die mens nie opgekom het nie, het God voorberei vir die wat Hom liefhet.

As ons dit dus waag om iets van en oor God te sê, laat ons nie praat soos mense wat dink dat hulle alles in pag het nie.

Ook die strydpunte van die geloof – ons gaan waarskynlik verras word deur hoe God oor dinge dink.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.