ToekomsVenster: Martha en Maria se keuses

(Foto: Rachel Cook/Unsplash)

Sonsopkoms by die see is ʼn verruklike gesig. Elke dag se sonsopkoms is ook uniek.

Somtyds loop daar ʼn hoofweg van sonlig en kleur regoor die water tot binne in jou leefvertrek. Die water maak sterretjies terwyl die son se strale daarop speel. Dit lyk of iemand ʼn reuse-sak vol blinkers op die oseaan uitgegooi het.

Nou die oggend se sonsopkoms was besonders. Dit was effens betrokke en die oggend het die son vir ʼn oomblik in die middel van die oseaan deurgebreek. ʼn Reuse-kol lig het op die water geskyn en het ʼn mens as’t ware uitgenooi om koers daarheen te kies.

Die woordjie “heerlikheid” het sommer dadelik by my opgekom. Dit was asof ek die Here se stem hoor wat my uitnooi om tyd in sy teenwoordigheid deur te bring.

Uiteraard is God oral teenwoordig. Tog is daar tye, dalk eerder oomblikke dat ʼn mens bewus word van iets buitengewoons. Dalk eerder Iemand buitengewoon, iemand soos die Seun van die mens. Iemand soos wat Johannes op die eiland Patmos beleef het. Johannes beskrywe Hom as die Woord wat van die begin af daar was, vol genade en Waarheid.

Ons is so besig, laat ek dit liewer persoonlik maak, ek is te besig, mooi en verdienstelike dinge ten spyt. Die beste gaan dalk by my verby?

Ek dink onwillekeurig aan Maria en Martha in die Lasarus verhaal. Die dienende Martha, uiteraard baie verdienstelik en voorbeeldig is ongelukkig dat Maria nie help nie. Jesus sê vir Martha dat Maria die beter keuse gemaak het.

Mag ons meer tyd maak vir die regte keuses, tyd in die teenwoordigheid, die heerlike teenwoordigheid, die genesende, energie verskaffende, lofwaardige, verruklike, onvergelykbare heerlikheid van God.

Mag ons soos ʼn Moses begeer: “Here, ek wil U heerlikheid aanskou”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Byekonfyt ·

Hemelse Vader, mag ons U perspektief in ons prioriteite soek. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.