ToekomsVenster: Middernag en steeds wakker

Foto: Uzair Ahmed/Unsplash

Markus 14:35 – “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie…”

Matt.25:6 – “En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!”

Dit is erg om teen die slaap te veg. Miskien moes jy al ver paaie reis en het jy gesukkel om wakker te bly, veral rondom middernag.  Of dalk het jy al aan ʼn gebedsessie deelgeneem wat deurnag sou plaasvind. Teen middernag was die skrif aan die muur. As kinders het ons dikwels gekuier met die voorneme om nie te gaan slaap nie. Middernag het telkens gewen.

Slaap is essensieel en ʼn voorreg.

Daar is egter tye en omstandighede waar slaap nie wil gebeur nie. Wanneer God se beloftes onvervuld bly en jy begin moed verloor. Dit word spreekwoordelik ook middernag en nog niks het gebeur nie. Jy begin twyfel soos ons almal doen en reken die kool is die sous nie werd nie. Jou kragte word min, jou deursettingsvermoë tot die uiterste beproef en jy wil liewer slaap en vergeet en opgee en wegstap.

In die Bybel het betekenisvolle dinge om middernag plaasgevind. Die tien meisies met hul lampe is daarvan ʼn goeie voorbeeld. Vyf was verleë en het die bruilof misgeloop omdat hulle nie voorbereid was nie. Die deure is gesluit en hulle kon nie toegang verkry nie.

Is dit amper middernag in jou situasie? Is jy by opgee en moed verloor se vlakte?

Baai jou hele gesig in lekker koue water dat jy kan wakker word. Loop spreekwoordelik om die huis en asem die koel lug in. Kyk na die sterre en verlustig jou in die skepping.

Dan weer verder wag.

Die uitkoms mag nader wees as wat jy dink.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Db ·

Glo ek dat middernag vir baie van ons gaan aanbreek en soveel gaan agtergelaat word. Wees reg mense en soos die berig hierbo lees, druk jou hele gesig in koue water om wakker te bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.