ToekomsVenster: Moenie dwaal nie

(Foto: Ben White/Unsplash)

Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. – Gal. 6:7

Daar is ’n natuurwet wat ook van die geestelike lewe waar is. Dit is die wet van saai en maai maar, ek moet dit darem kwalifiseer. Wie onverskillig en volhardend, rebels en opstandig, selfsugtig en konsekwent boosaardig saai, sal die slegte oes. Dit kan tog nie anders nie.

Toegegee, dit lyk nie altyd so vir mense wat toekyk nie. Die Psalmdigter het met dieselfde probleem en vraagstuk geworstel. Lees gerus die eerlike worsteling van die skrywer in Ps. 73:1-3:

God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.

As jy egter die res van die Psalm lees sien jy dat die digter gaandeweg tot beter insig kom en aan God die eer gee.

Christene het van die dood in die lewe oorgegaan. Dit beteken dat gelowiges op die weg van heiligmaking is en gaandeweg onder leiding van die Heilige Gees, die Christuskarakter al hoe meer begin vertoon.

Dit is somtys ’n val-en-opstaan ervaring. Dit neem somtyds langer om van sekere versoekings ontslae te raak. Die Christelike lewe moet in besondere sin ingeoefen word. Dit kom nie sommer vanself nie. Tog stry ons hierdie stryd vanuit die oorwinning wat Jesus oor die bose behaal het.

Wie hom telkemale op die genade van God beroep vind inderdaad ’n liefdevolle Vader met baie begrip en deernis. Die vers “wat jy saai sal jy maai” moet dus effens anders uitspeel in die lewe van ’n gelowige.

Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. – Gal. 6:8

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sanja ·

Dankie dis elke dag kos vir my siel om te lees en om positief te ((probeer) bly en ook mense om my te (probeer) bemoedig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.