ToekomsVenster: Moenie toegee nie

(Foto: Nik Shuliahin/Unsplash)

“Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.” – Efesiërs 6:13 (AFR83)

Daar is mos die spreekwoord wat sê “laat Gods water oor Gods akker loop”. Dit beteken dat ʼn mens soos ʼn slagoffer dinge akkommodeer, aanvaar en geen weerstand bied nie. Meer onlangs is daar ook die gesegde wat sê dat ʼn mens nie kan help dat ʼn spreeu oor jou kop vlieg nie, maar as dit nesmaak in jou hare is dit niks anders as treurigheid nie.

Mistroostigheid is aansteeklik. Somberheid wat net nooit ophou behoort nie die manier te wees waarop ʼn Christen leef nie.

Daar is mediese toestande wat ek uiteraard nie hier betrek nie. Ek het self die pad gestap en ʼn regruk-woord, die immergroen “tel jou seëninge”-voorskrif en ʼn blits-versie uit ʼn gunsteling-Psalm maak dan nie hond haaraf nie. Mediese en psigologiese of emosionele uitdagings moet professioneel aangespreek word. Loof die Here vir kundiges wat ʼn mens kan begelei tot beterskap.

Ons praat egter van iets anders. Die Bybel praat van weerstand bied.

Weerstand is berekend, doelgerig, op die uitdagings gerig en beslis in jou voorneme dat jy nie gaan toegee nie – of dit ʼn leuen is wat aan jou opgedis word, ʼn versoeking wat jou oorweldig, ʼn skuldgevoel waarvan jy net nie kan ontsnap nie of ʼn valse leerstelling wat die sekerheid onder jou laat wegkalwe.

Weerstand beteken dat jy jou dan beroep op die groot krag van die Heilige Gees om jou vaardig te maak, toe te rus en deur te dra totdat die oorwinning deurbreek soos die môreson.

Die Bybel is daaroor duidelik, voorspoed-teologie ten spyt. Die lewe is soms taai en uitdagend.

Goddank dat die lewe ook interessant, stimulerend, opwindend, verrassend, buitengewoon kosbaar en eenmalig is. Ons moenie die lewe, die hier en nou, die gawe wat God gee, misloop nie.

Ons wil nie een dag hoor dat die Here vra, waarom het jy nie geleef nie?

Waarom het jy jou tuisgemaak in tragedie, hartseer, bitterheid en verwyt?

Ek weet nie wat jou konteks is nie. Miskien het jy rede tot slegte en oorweldigende gevoelens. Moenie daar tent opslaan nie.

Gee die gebeurlikheid, saak of emosie die erkenning wat dit verdien. Leer wat jy moet en beweeg aan.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Janneman!! Moet tog nooit ophou skryf nie!! Daars baie van ons wat dit elke dag verslind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.