ToekomsVenster: ’n Getuienis van oorvloedige genade

(Foto: Raphael Rychetsky/Unsplash)

“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here.” – Jesaja 55:8 (AFR83)

Dis half ʼn moeilike teks hierdie. Daar is soveel onbeantwoorde vrae in hierdie wêreld. Die waaroms is somtyds oorweldigend en jou gedagtes bied geen antwoorde of oplossing nie.

Maklike en oppervlakkig antwoorde sal nie hier bevredig nie. Dit troos ook nie regtig nie. Antwoorde soos die Here het die mooiste roos in die tuin gepluk wanneer ons van iemand wat geliefd is moet afskeid neem.

Mense wat hierdie gedagtes opper bedoel dit uiteraard goed. Hulle nabyheid en belangstelling word opreg waardeer. Dit is juis die nabyheid van hartsmense wat ʼn mens deur ʼn swaar tyd dra. Daarom kan ʼn mens ook hierdie soort opmerkings wat daarop gerig is om jou beter te laat voel, verskoon en selfs waardeer.

Eintlik staan ons almal verleë voor die groot lewensvrae waarmee ons op aarde gekonfronteer word. Dood, siekte, rampe en ellendes. Oorloë en lewensverlies, hartseer verhale wat ander mense saam met jou laat huil.

Die Here het nêrens belowe dat sy kinders onder alle omstandighede van alles genoeg sal hê nie. Hy het nie belowe dat aardse realiteite nie somtyds ook in die lewe van sy kinders sal uitspeel nie. Selfs die dood het hy nie weggeneem nie, maar die angel en bedreiging daarvan uitgetrek.

Ek hoor dikwels dat ons in die ewigheid sal verstaan waarom sekere dinge gebeur of nie gebeur het nie. Dit mag so wees, maar ek wonder of dit dan hoegenaamd sal saak maak.

Feit van die saak is dat die Here nie foute maak nie, dat Hy die lotgevalle van sy kinders op sy hart dra, dat Hy beloftes gemaak het wat swaar en uitdagende tye hanteerbaar maak.

Praat maar met mense wat seer- en kwelpaaie geloop het.

Min verwyt God, die meeste getuig van sy oorvloedige genade.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lettie ·

Amen. Ons dien ‘n Wonderbare God. Hy luister, al voel dit soms nie so nie. Dankie vir boodskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.