ToekomsVenster: Niks anders as rebellie

(Argieffoto: pixabay)

“Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.” – Psalm 32:3-4

Ons kuier hierdie week met mekaar saam uit Psalm 32 en ek lees vandag vir jou die derde en die vierde verse.

Soos gister, is dit steeds die tema van sonde wat op die tafel is.

Die wêreld lyk soos wat dit lyk vanweë sonde. Sonde is niks anders as rebellie teen God en sy standaard nie.

Die boodskap van die Bybel word in een woord opgesom, liefde. Sonde is ʼn gebrek aan liefde, liefde vir God, ja liefde vir jouself en liefde vir jou medemens. Die Bybel sê dit tog baie duidelik: “die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie” (Romeine 13:10).

Dink nou maar aan enige saak wat jy as sonde en sondig sou beskryf.

Om iets van iemand anders te neem wat nie aan jou behoort nie, om te steel, maak van jou ʼn dief en van ander mense slagoffers. Om te steel kan tog nie ʼn uitdrukking van liefde wees nie.

God sê jy mag nie steel nie en as jy besluit om dit tog wel te doen, oortree jy die gebod van God. Jesus sê: “as julle my liefhet sal julle my gebooie bewaar” (Johannes 14:15).

Dit is dus baie duidelik dat sonde in die eerste plek ʼn gebrek aan liefde vir God is. Dit is rebellie teen die gesag van God wat volle aanspraak op ons lewens het en aan ons die lewe as gawe gee; sekerlik met die verwagting dat ons ooreenkomstig met sy gebod – jy mag nie steel nie – sal optree.

God se gebooie is nie daar om ons te straf en die lewe moeilik te maak nie, maar juis dat ons die volle potensiaal, geluk en betekenis van die lewe sal smaak.

Die persoon van wie iets onregmatig geneem word, is die slagoffer. Daardie persoon word skade berokken. Dit is tog baie duidelik eweneens ʼn gebrek aan liefde. Dit is inderwaarheid selfsug en eie belang wat die botoon voer.

Dit demonstreer die krisis wat ons in en met die wêreld het. Ons optrede word meermale deur eiebelang, selfsug, traagheid, vooroordeel en agterdog, maar nie Goddelike liefde nie, gemotiveer.

Die digter van Psalm 32 sê dat hy swaar gedra het aan die las van sonde, maar homself nie so ver kon kry om dit voor die Here te bely nie. Hy het dalk selfs gedink dat God nie daarvan weet nie, maar God vir wie die duisternis soos lig is, weet wat in die hart van die mens omgaan. (Psalm 139:12)

Oortuig deur die Heilige Gees, het hy egter by die punt gekom waar hy sy skuld voor God kon bely en die wonderlike gawe van vryspraak kon ervaar. (Johannes 14)

Dit is goeie raad om sonde te hanteer wanneer dit in jou lewe manifesteer. Die Heilige Gees sal jou oortuiging dat jou optrede nie die goedkeuring van God wegdra nie. Bely dit doodgewoon voor Hom, bely dit teenoor mekaar, en leef in die vryheid wat God in Christus Jesus verwerf het.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.