ToekomsVenster: Om genesing van God te ontvang

sonneblomme_CR3E8547.jpg

Argieffoto (Foto: Reint Dykema)

“Jesus sê toe vir hom: ‘Staan op, tel jou goed op en loop’.” – Johannes 5:8 (AFR83)

Dankie vir die voorreg om saam jou te kuier, ek aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie. My gebed is dat hierdie dagstukkies vir jou regtig van waarde is. As dit op enige manier bydra tot jou lewensgehalte en hoe om in hierdie wêreld te oorleef, sal ek bly wees as jy dit ook met ander deel.

Daar is soveel betekenisvolle metafore in die lewe wat iets te sê het oor ons verhouding met die Here, ons verhouding met onsself, ons verhouding met ander mense en met die wêreld.

ʼn Kort gesprek met my kleinkind vanoggend het my gedagtes weer aan die gang gesit.

Die outjie het gisteraand by ons oornag en dit is altyd ʼn lekker voorreg om die kleinkinders by Ouma en Oupa te hê.

Toe ek hom vanoggend afsien, sien ek dat hy ʼn seerplek het. Ek verwys daarna, waarop hy vra: “Maar bloei dit?”.

“Nee, daar is reeds ʼn rofie. Dit is besig om gesond te word,” sê ek.

Daar is tye in ons lewens wanneer die wonde bloei. Dit is tog onafwendbaar dat wanneer jy ʼn wond opgedoen het daar tekens sal wees dat seerkry toegedien is. Maar bloei is deel van die genesingsproses en wanneer dit plaasgevind het verskyn daar ʼn rofie en dit is nie meer so seer nie.

Met verdrag val die rofie af en meer dikwels bly daar ʼn litteken agter wat getuig van ʼn onaangename ervaring waarvan jy herstel het.

ʼn Wond wat bly bloei kan seker lewensgevaarlik word. Dit is dringend noodsaaklik dat ʼn mens professionele hulp inroep as dit die geval is. Eweneens is dit so met emosionele wonde.

Dit gebeur juis dat met professionele hulp en ondersteuning, berading, gebed en studie van God se Woord die wond gaandeweg begin herstel en die rofie die stille getuie is van ʼn gebeurtenis wat plaasgevind het.

Ons almal dra tekens van seerkry. Sommige van die littekens getuig van snye wat baie seer gemaak het. Ander van wonde wat sommer vinnig herstel het.

Jy kan kla oor die littekens, ander en jouself voortdurend daarvoor verwyt, of jy kan die Here dank dat genesing ingetree het en dat jy soveel ryker toegerus is vir die lewe en die eise wat daarmee gepaard gaan.

Daarmee saam kan jy identifiseer en simpatie hê met mense wat ook wonde van dieselfde aard opgedoen het. Dan word die wonde wat jou toegedien is, en die genesing wat plaasgevind het, deel van jou roeping. Dan kry dit sin en betekenis, dan is dit nie meer so swaar om te dra nie.

Dan word jy gevul met dankbaarheid dat jy genesing ontvang het, ja, dat God jou in sy groot genade nie gelaat het waar jy was nie, maar jou genees het.

Waar bly dit bloei in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Flemming ·

Jannie,
Dankie, hierdie dagstukkies is van GROOOT waarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.