ToekomsVenster: Om ’n vader se rol te vul

(Foto: Gaelle Marcel/Unsplash)

“Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid.” – Kolossense 1:3 (AFR53)

Wanneer ons oor kerk praat is daar sekere merktekens waarsonder kerk nie kan wees wat God daarmee bedoel het nie.

Kerk is inderdaad ʼn vreemde verskynsel in hierdie wêreld. Ons verteenwoordig ʼn stel waardes wat vreemd is aan die wêreldse manier van dink en doen.

Toegegee, daar is nie-gelowiges wat voorbeeldige lewens lei. Somtyds laat hulle ʼn mens verleë voel oor die gebrek aan toewyding wat in jou lewe is.

As mense sonder die Gees van Christus dan so leef, watter implikasie het dit vir ons wat bely dat die Gees van die Lewende God in ons woon?

As soekers na die Waarheid en die volheid wat in Christus Jesus aan ons geskenk word, is ons egter voortdurend afhanklik en aangewese op die Gees om die karakter van Jesus in ons na vore te bring.

Vader, Seun en Heilige Gees. Onverstaanbaar, maar waar. Dis hoe ons Hom in die Woord leer ken. Die Vader is nie die Seun nie en die Seun is nie die Gees nie, tog is hulle in alle opsigte een.

Die kerk sonder Jesus kan nie kerk wees nie. Sonder die Gees is daar eweneens nie sprake van kerk nie. Dit geld ook vir die Vader.

Ons praat, preek en sing van God en dit hoort so. Ons moet egter eweneens moeite doen om die drie-eenheid in hul eiesoortigheid na vore te bring.

Die Vader van ons Here Jesus Christus, is ook ons Vader. Wanneer Jesus sy dissipels leer bid, begin Hy met Ons Vader. Wanneer Jesus getuig verwys Hy voortdurend na sy Vader. Die seën word uitgespreek in die Naam van die Vader. Romeine leer ons dat die Vader nie ver is nie maar intiem naby, naby soos vir ʼn klein seuntjie wat sy pappa aanspreek.

Ons behoeftes mag ons duidelik formuleer en voor die aangesig van die Vader bring, want Hy sorg vir ons.

Ons leef te midde van afwesige vaders. Omstandighede maak dat pa nie so geredelik beskikbaar is soos die ideaal nie. Ander pa’s het nie ʼn saak met hul kinders nie. Ander verniel hul ma en die kinders, tree soos wilde diere op wanneer hulle onder die invloed by die huis kom.

Verbondsmatig het elke pa belowe dat hy hom so sal gedra in sy huis dat sy kinders nie ʼn verwronge beeld van die Pa van die hemel sal vorm nie. Ongelukkig is so baie mense se vaderbeeld erg beskadig, soveel so dat hulle God nie as Vader kan voorstel of kan liefhê nie.

Die kerk moet praat oor die Vader. Die kerk moet ʼn Vadersrol vervul, ʼn toevlugsoord wees vir hulle wat warmte en aanvaarding soek. Die kerk moet ʼn plek van genade wees.

Immers, die verlore seun se pa het hom nie net op ʼn afstand ingewag nie maar waarskynlik ingehardloop.

Al wat daardie rebelse seun ontvang het, was die Liefde van die Vader.

Ken ons die Vader se liefde?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.