ToekomsVenster: Ons God van belofte

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

Miga 4:1-2 – Daar kom ‘n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ‘n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.”

Die verrassende van die boek Miga is dat die regmatige oordeel van God, ja, sy volk staan skuldig, telkemale met belofte van herstel opgevolg word.

Die woorde “daar kom ʼn tyd” in die mond van ʼn sterfling beteken nie veel nie. Op sy beste is dit wensdenkery en ʼn gelukskoot as dit regtig gebeur. Die lewe is net te onseker dat ʼn blote mens sonder meer kan aankondig, “daar kom ʼn tyd”. In die mond van die Koning van die heelal egter is dit ʼn  gans ander storie.

Op grond van sy volledige kennis, wysheid, insig en almag is Hy in staat om te sê “daar kom ʼn tyd”. Te midde van die volk se ontrou kom die verrassende genade aankondiging van God “daar kom ʼn tyd dat die huis van die Here”, ou Testamentiese verwysing na die tempel in Jerusalem, “ʼn blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels”.

Die tempel is op Sionsberg gebou. Die tyd wat voorlê vir die volk van die Here is nie ʼn maklike tyd nie.

Die Babiloniërs gaan uiteindelik kom en die volk in ballingskap wegvoer, die tempel aftakel en die skatte roof. Die volk kan so ʼn moontlikheid glad nie verreken nie. Hulle troos hulle daarin dat solank daar ʼn tempel in Jerusalem is, God nooit iets, so radikaal sal toelaat nie.

Die oordeel is egter reeds gevel en is in God se plan onomkeerbaar. Maar die belofte is sterker, groter en hoopvol, en selfs te midde van die grootste vernedering denkbaar kan die volk hulle troos dat die Here hulle weer genadig sal wees.

Nuwe Testamenties is hierdie profetiese aankondiging in die kerk, die kinders van die Here, die Liggaam van Christus verwerklik. Die wêreld moet kennis neem van die almag en heerskappy, die heerlikheid en genade van God. Mag die Here ons help om hierdie roeping waardig te wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.