ToekomsVenster: Ons is mens onder mense

(Foto: Hugo Fergusson/Unsplash)

“En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.” – 2 Petrus 1:5-7

Ons gesels hierdie week oor mense en menseregte na aanleiding van verlede week se openbare vakansiedag.

Ons het gister stilgestaan by die wonder om as mens iets van God te verbeeld. Wanneer ons oor onsself dink, en dit moet ons doen, moet die unieke van menswees nie by ons verby gaan nie.

Psalms 8 sê, net minder as ʼn goddelike wese, met eer en heerlikheid gekroon.

Wat ʼn voorreg!

Nou is dit so dat ons die spasie op aarde met ander mense deel. Oor die afgelope 70 jaar het die wêreldbevolking verdriedubbel. Daar is tans meer as 8 miljard (1 miljard = 1 000 000 000) mense in die wêreld en die Verenigde Nasies verwag dat die wêreldbevolking teen 2050 na raming 9,7 miljard sal wees. Daar sal na verwagting 10,4 miljard mense teen 2080 op aarde wees.

Hierdie wesens het iets besonders in gemeen, geen uitsondering nie. Almal is beelddraers van God, of hulle dit weet, glo en bely, of nie.

ʼn Mens kan nie deur jou gebrek aan kennis, onverskilligheid, ongeloof, of enigiets anders, kanselleer wat God van jou sê nie.

Die wye ervaring van menswees is ons gemeenskaplike belewenis.

Almal moet voedsel inneem ten einde te oorleef en water ook. Dit maak dit des te meer aangrypend en hartseer wanneer ons verneem van mense, selfs in Suid-Afrika, wat nie genoeg het om te eet nie.

Die tingerige figuurtjies van kinders wat van honger doodgaan, is onvergeetlik ontstellend.

Alle mense het behoefte aan skuiling. Sommige woon in paleise en ander in pondokke. Ongeag van waar jy bly of moet bly, jy is daarop aangewese en daarvan afhanklik.

In die onlangse verlede het ʼn groep mense, waningelig deur ʼn moedswillige raadslid, ʼn stuk grond betrek digby Bloemfontein. Die strukture is daarna afgebreek. Dat die reg moet geld is inderdaad so en dat mense nie sondermeer privaat grond kan okkupeer nie, is ook so.

Dit is egter die stories van vroue en kinders veral wat onder die sterrehemel slaap, wat ʼn mens se aandag trek.

Ons is mens onder mense.

Ons het die wye ervaringsveld wat eie is aan menswees met mekaar in gemeen.

Ons lag en huil, ons droom en word ontnugter as ons drome verdwyn.

Ons begeer die beste vir ons kinders.

Ons is veronderstel om om te gee vir mekaar.

Toe God mense maak, onthou gister se beeld – die vorm waarin God die mens gegiet het, het Hy nie besluit sommige is minderwaardig, onaansienlik of weglaatbaar nie. Inteendeel.

Paasfees herinner ons dat God die wêreld, die hele wêreld, die mensewêreld ingesluit, so lief het dat Hy sy beste opoffer sodat iets van eg menswees herstel kon word.

By wie loop ek en jy vandag verby?

Wie sit in die motor wat ongeërg by jou verbyjaag?

Wie staan op die hoek van die straat met ʼn bordjie wat vra?

Wie beraadslaag vandag in die hoogste kringe oor wêreldprobleme en uitdagings?

Gewone mense, net soos ons.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.