ToekomsVenster: Ons kinders kry swaar

kinders-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Ek skrywe vir julle, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was. Ek skrywe vir julle, jongmense, omdat julle die Bose oorwin het. – 1 Johannes 2:13

Ek maak geen verskoning vir my passie vir kinders nie. Immers, Jesus het vir hulle ook ʼn spesiale plek in sy hart gehad.

Prof. Lizette Rabe, verbonde aan die departement van joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch, skryf ʼn insiggewende artikel oor die stressors waaraan ons kinders en jongmense onderwerp word. So hartseer as wat dit is pleeg haar seun, ʼn vierde jaar mediese student, selfmoord. Dit noop haar om veral aan jongmense se geestesgesondheid aandag te gee.

Die hartseer van ʼn ouer wat sy of haar kind onder hierdie omstandighede verloor kan nie besef word nie. Statisties word aangedui dat een uit tien sterftes onder jongmense selfdood is.

Rabe verwys na die veelheid van angste en vrese wat jongmense beleef. Navorsing dui op abnormale hoë spanningsvlakke by ons kinders en jongmense.

Die stigma rondom depressie moet dringend aangespreek word. Dit is die grootste oorsaak van selfdood. Rabe beskryf dit as ʼn soort Antjie Somers wat buite sigself wegkruip en op ʼn onbehoorlike tyd toeslaan.

Nuwe vorme van angs sluit “eko” angs in. Die storie onder geaffekteerde jongmense is dat hulle nie aan ouderdom sal sterf nie, maar aan klimaatsverandering. ʼn Ander manifestasie van angs is “Fomo”. Dit verwys na mense wat aan hul slimfone verslaaf is omdat hulle nie iets wil misloop nie. Dit gebeur wanneer die selfoon jou lewe letterlik regeer.

Ouers en opvoeders moet van hierdie realiteite kennis neem. Ons kinders het leiding nodig.

Ons is die groot mense. Baklei en straf sal nie help nie. Ingeligte gesprekke, professionele hulp en begeleiding waar nodig ens. moet in plek kom. Huisvergaderings, saam werk en speel bring weer ʼn stukkie normaliteit in die lewens van ons kinders.

Ons moet ons kinders beskerm en begelei en verskans teen elemente wat hul lewensvreugde en vervulling wil inkort.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.