ToekomsVenster: Ons kon dit nie so los

Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. – Matteus 6:10

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Mens lees al hoe meer van gemeenskappe wat “skouer aan die wiel sit” en verantwoordelikheid neem vir hul verwaarloosde omgewing. So lees ek van ene Elna en Connie Hanekom wat besluit het die plaaslike begraafplaas is verwaarloos en vergete. Van hul geliefdes is daar begrawe en om die omgewing so te laat getuig van ’n gebrek aan respek vir mense wat reeds gesterf het, was vir hulle net te veel.

Met ’n volgende besoek het die grassnyer saamgegaan met die bedoeling om die onmiddellike omgewing rondom die grafte van hul geliefdes te versorg. Dit het hulle egter nie vrede gegee nie en hulle het begin om die hoë gras rondom ander grafte en in die paadjies aan te durf.

Niemand kan met ’n goeie voorbeeld stry nie en dit was nie lank nie toe daag die plaaslike munisipaliteit op en begin om op te ruim.

Connie en Elna Hanekom se voorbeeld het mense van regoor Suid-Afrika aangegryp omdat dit waarskynlik waar is van hul eie omgewing ook. Mense het hulp aangebied en ander het bemoedig en gelukgewens. Die Hanekoms hou vol dat hulle betrokke geraak het omdat dit die regte ding was om te doen.

Dit is ’n onbetwisbare feit. Oral merk ons tekens van agteruitgang en verval. Ons gaan nie op die redes in nie en word nie prooi van eindelose kritiek en beterweterigheid nie. Dit mag waar wees maar dit help niks.

In jou huis, motorhuis en pakkamer staan gereedskap wat gebruik kan word om die ruimte rondom jou op te ruim. So dien jy ander mense.

Jy kan werk skep en iemand in diens neem om ’n dag of drie reg te maak wat besig is om te vergaan.

Jy sal verbaas wees oor die aanmoediging wat jy ontvang en verrassend, maar tog moontlik, daag die plaaslike owerheid of verantwoordelike instansie of persoon op en verklaar in stilte, “goed ek neem kennis”.

Ons gebed dat “die Koninkryk van God op aarde sal kom” is toe veel meer prakties, alledaags en gewoon as wat meeste van ons gedink het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.