ToekomsVenster: Ons nasie verkeer in gevaar

(Argieffoto: Unsplash)

“Ag, as my volk maar na My wou luister, as Israel maar my wil wou doen.” − Psalms 81:14 (AFR83)

Op Saterdag 21 Januarie is daar in Benoni ʼn gebedsbyeenkomste gehou wat as histories beskryf word. Die geleentheid is deur TEASA, ʼn liggaam wat alle Evangeliese kerke saambind en ander rolspelers waaronder Radio Kansel, gereël. Verskeie geestelike leiers het by die geleentheid opgetree en voor gegaan in gebede.

Die prediker vir die dag was dr. Frank Chikane. Dit is so dat die media oor sy optrede en boodskap geskryf het en dat die openbare kommentaar daarop bykans deurlopend negatief was. Dr. Frank het sekere stellings wat verband hou met ons verlede in die verbygaan gemaak, wat aanvegbaar is en mense verkeerd opvryf.

Dit is heeltemal te verstane. Die verhaal van ons brutale verlede moet iewers tot rus kom as ons wil vorder. Die vraag is, en dit wil ek nie nou beredeneer nie, of dit reeds tyd is om die begrafnis te hou?

Albei vennote moet tog voel dat die saak na behore bespreek is en dat ons mekaar in die proses gehoor het. Ek vrees dat daardie oomblik nog nie aangebreek het nie, nie as ek met my kollegas skouers skuur nie.

Christene stap met mekaar die ekstra myl, dit is wat Jesus sou doen. As dit dan vir nog ʼn ronde gesels vra, is Christene meer as bereid om daaraan te voldoen.

Dit is egter nie waar ek wil uitkom in vandag se gedagtes nie. Dr. Frank het soveel meer te sê gehad en wat as niks anders as profeties geïnterpreteer kan word nie.

Hy het onder andere gesê dat ons land in gevaar is en die leiers van Suid-Afrika onomwonde tot inkeer en bekering opgeroep. Hy het gewaarsku dat, soos in Jeremia se tyd, die leierskap in Suid-Afrika met die gevolge van hul korrupte optrede gekonfronteer gaan word.

Wie hy aangespreek het, was baie duidelik. As ek die heersende politieke party en leierskap in Suid-Afrika is, sal ek ernstig nadink oor sy boodskap. Die Bybel sê dit is vreeslik om in die hande van ʼn lewende God te val.

Hy het egter ook die kerk tot ʼn egte spiritualiteit opgeroep. Hy het verwys na die veelheid van kerke in alle uithoeke van die land. Daar is ʼn kerk of gemeente of Christelike geloofsgroepering daar.

Waar riool in die strate afvloei is kerke, waar gate die pad onveilig maak, is kerke.

Prof. Rothney Tshaka van Unisa wat in ons radiogesprek saamgesels het, het vertel hoe hy deur ʼn dorp gery en gesien het hoe jong kinders in die rommelhoop kos soek. Tog is daar ten minste een kerk in daardie omgewing.

Hoe kan dit wees?

Wanneer die Here praat oor dit wat verkeerd is in ʼn samelewing, gesels hy met die kerk. Dit juis hulle wat opgeroep word tot bekering.

“As my volk, verootmoedig en bid, bekeer van verkeerde weë, sal Ek hul land genees”. − 2 Kronieke 7:13

Moenie die baba met die badwater uitgooi nie. As jy kan, luister verder. Die Here praat met elkeen van ons.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.