ToekomsVenster: Onthou jy nog?

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

Ek ontmoet onlangs ʼn pragtige jong man wat skaamteloos vertel van sy verhouding met die Here.

Eens ʼn kranige sportman met baie om oor te spog, ontmoet Hy die lewende Here en word sy stukkende hart genees. Sedertdien gebruik hy elke geleentheid om te getuig oor God se genade, liefde en trou.

Sy oë blink, sy entoesiasme is aansteeklik, sy nederigheid tasbaar.

Ons praat oor herlewing. Hy deel sy definisie van herlewing met my. “Keer terug na jou eerste liefde,” sê hy. Dis die kern van herlewing.

Hy is nie verkeerd nie, inteendeel. Die versugting na herlewing word immers voor die deur van God se kinders gelê.

Dis nie die wêreld wat moet herleef nie, hulle ken tog nie vir Jesus nie.

Dis ons, die kerk, gelowiges wat soos die skrywer van 1 Kronieke 13, oorbekend nie waar nie, tog pynlik eerlik stel – “as My volk oor wie my Naam uitgeroep is”.

Ek luister aandagtig na die mooi seun. Die heerlikheid van die Here omhul die gesprek. Ek wil soos Moses die gloed van die ontmoeting lank koester.

Ek dink terug oor my lewe. My ontmoeting met die Here lê ver terug, dalk joune ook.

Ek onthou die omstandighede.

Ek onthou die heiligheid van die oomblik, die honger na God wat losgekom het.

Ek herroep hoe ek vir almal vertel en wou vertel het. Nie altyd met sensitiwiteit en deernis nie, soms arrogant en aanmatigend. Immers, almal wat my pad kruis moet nou bekeer word. Die tyd is min en die geleentheid gaan verby.

Met tyd kry ʼn mens ʼn bietjie wysheid, jy ontwikkel die gawe van onderskeiding, jy streef en bereik stukkie vir stukkie die volwassenheid waarvan Paulus praat – so volmaak en volwasse soos Christus.

Jy wag jou beurt af, jy werk verhoudingsmatig, jy delf in die Woord sodat jy meer te wete kom.

Jy kry begrip vir ander, hul belewenisse wat van joune mag verskil.

Jy luister fyn omdat nie almal wat Jesus-Jesus skree, diepgang het nie.

Dis alles goed en wel, sê ek vir myself, maar wat is die eerste liefde. Is ek nog daar? Is jy nog daar?

Iemand praat van ʼn tweede naïwiteit – glo soos ʼn kind glo, onvoorwaardelik en opreg.

Ek soek na daardie tweede naïwiteit – dit beteken nie ondeurdag of vlak nie.

Goeie teologie is nodig, sommer baie nodig in ons tyd, maar die liefde, die eerste liefde – herlewing – dalk is dit waarna die Here ons uitnooi.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.