ToekomsVenster: Pasop vir jou eie refleksie

(Foto: Luke Leung/Unsplash)

“Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug.” − Markus 4:18-19

Die juffrou na wie ek vroeër die week verwys het, is besig met haar klas terwyl ek gou ʼn paar notas tik. Sy is superfiks, in alle opsigte. Haar werk vra fisiese, emosionele en intellektuele insette. As daar een mens is wat haar salaris verdien is dit sy, glo my vry.

Sy wys vir die kinders ʼn storie. Die arme hond is desperaat vir iets om te eet. Hy krap in asblikke rond opsoek na iets om sy honger te stil. Hy drafstap by die slagter verby wat hom met ʼn heerlike been beloon. Opgewonde stap hy straataf waar hy ʼn bruggie moet oorsteek.

Hy sien sy eie refleksie in die water en sien dat die ongeïdentifiseerde vriend ook ʼn been beet het. “Die been lyk effens groter,” dink hy. “Ek sal die been afneem en dan kan die hond in die water die ander een, die kleiner been, kry”.

Met die los slag val die been wat in sy mond was in die water, wat die hondevriend in die water eweneens sonder enige verversings laat.

Skielik besef die verleë hond dat hy sy eie refleksie in die water gesien het en dat sy selfsug en afguns hom sy ete gekos het.

Is dit nie eweneens op ons van toepassing nie? Hebsug en jaloesie kan ons duur te staan kom.

Wanneer ons deel word van die worsteling om steeds meer en meer te hê en in te palm, wanneer ons probeer byhou by die mense wat deel van ons verwysingsraamwerk is.

Wanneer ons waarde en identiteit vervleg is met posisie, status en besit en wanneer genoeg nooit genoeg is nie, staan ons ʼn goeie kans om alles te verloor.

Omdat ons altyd op iets anders gefokus is, geniet ons nie wat ons wel het nie. Op ʼn mooi dat kom jy agter dat die lewe ʼn gejaag na wind is.

Ons moet die les wat die Prediker geleer het ter harte neem. Aardse skatte het die manier om teleur te stel. Dit is verganklik en relatief onbelangrik.

Jy kan net een hemp op ʼn slag dra, net op een bed slaap. Jy kan net soveel eet voordat jy versadig is. Jy kan net een motor op ʼn slag ry en net een grassnyer op ʼn slag oor jou grasperk stoot.

Daar is meer omdat daar meer mense op aarde is. Dis nie alles vir jou bedoel nie.

Moenie dat die lewe by jou verbygaan terwyl jou fokus die heeltyd op dit is wat jy nie het nie, dit wat meer indrukwekkend, duurder en meer skitter as wat jy het nie.

Die geheim is ʼn gesonde, Godverheerlikende, balans.

Dit is nie verkeerd om mooi dinge te hê en groter hoogtes te bereik nie.

As dit egter voortdurend jou fokus is, mag jy baie teleurgesteld wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.