ToekomsVenster: Sien jy dit?

gebed-seun-skemer-sonsondergang-deur-juanita-badenhorst-2018-06

Foto: Juanita Badenhorst.

“Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek! Stuur my!’.” – Jesaja 6:8 (AFR83)

Toe ons kinders klein was, en nou met die kleinkinders, speel ons somtyds die speletjie: “Ek sien met my kleine, kleine ogies”. Dan word die eerste letter as wenk gegee en raaiskote volg. “Dit begin met ʼn b!”

B verwys gewoonlik na ʼn boom, maar is somtyds minder opsigtelik. Immers, boom en boombas is twee goed, boom en bessies, al is die bessies aan die boom, is eweneens van mekaar verwyderd. Die speletjie sorg vir baie pret en almal neem ywerig deel.

“Nou is dit my beurt, nee dit is myne.”

So deel almal in die opwinding en die oomblik.

Ry ʼn mens na jou bestemming sien ʼn mens eweneens soveel dinge raak, of sien ons dit?

Die vier persone wat die straatkruising beman, elk met ʼn bordjie wat getuig dat die meetsnoere nie in lieflike plekke geval het nie.

Die man in ʼn rystoel wat in die middel van die pad staangemaak word om aandag te trek.

Die mammas met klein kindertjies, meestal pap babatjies, wat as tragiese figuur op die eilandjie neffens die robot sit.

Die man op sy knieë wat die straat versper en vra vir ʼn aalmoes.

“Ek sien met my kleine, kleine ogies”, maar wil nie sien nie.

Die ellende, die swaarkry, ook die manipulasie en soms onwilligheid om self iets te probeer doen.

Hier en daar frustreer iemand jou met ʼn vullissak en vra of hy jou motor in die verbygaan en by die robot kan skoonmaak. Iemand anders spuit ongevraagd jou vensterruit vol seepwater en vee dit haastig met ʼn vuil lap skoon. Iemand anders deel Bybelversies uit, maar doen darem iets.

So ry ek en sien met my oë drie jongmanne wat die sement-geplaveide eilandjies met ʼn graaf en besem aandurf. Bossies en onkruid wat lank reeds verwyder moes wees, maar welig groei word tussen die stene vasgevat en uitgeroei. Die manne is nou reeds minstens twee weke daagliks so besig en gaandeweg word die omgewing netjieser en vriendeliker.

Ek stop en vra wie hulle betaal. “Niemand,” antwoord hulle, “ons het by die straathoeke gestaan en bedel en mense het gesê ons is net te lui om te werk. Toe besluit ons om iets te doen.

“Ons het ʼn graaf en ʼn besemkop gekry. Self ʼn stok vir die besem gekry. Nou maak ons stuk-stuk skoon. Ons bly neffens die winkelsentrum in die veld. As dit reën skuil ons by die motorhawe. As ons ʼn kruiwa het, sal dit ons werk sommer baie ligter maak”.

Gister is die groen kruiwa afgelewer.

Die manne glimlag breed.

“Ek sien met my kleine, kleine ogies – iemand wat sê, ek kán iets doen, al betaal niemand my nie.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Ja, dis ‘n daaglikse seer wat mens teëkom wat jy nie aldag weet hoe om te hanteer nie

Lettie ·

Stem saam met Frank. Wil graag maar, is jou gawe ten goede of ten kwade vra ek myself af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.