ToekomsVenster: Simbole van genade

Foto: Matthias Oberholzer/Unsplash

Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. – Matteus 10:29

Om koffie te drink soggens gee soms aanleiding tot vrugbare gedagtes. Terwyl ek en vroutjie by die venster uitkyk hoe die letterlik tientalle mossies en ander voëltjies toesak op die saadjies wat ons uitsit dink ek aan ʼn nuwe kort reeks waarmee ek graag wil begin en jou betrokkenheid wil vra. ʼn Lekker interaktiewe, gedeelte ervaring.

Simbole of metafore is wegwysers na iets anders van betekenis. Dit herinner jou aan iets wat vir jou besondere betekenis het. Neem maar die vlerk vriende wat soggens vrymoedig aansit vir ontbyt.

Teen die tyd dat ek uitstap is daar reeds ʼn menigte bymekaar. Hulle het nie gewerk of presteer vir die saad nie. Hulle het hul nie besonder gedra of ons beïndruk nie. Hulle weet daar is iemand wat sorg sonder om iets terug te verwag.

Uiteraard verskaf die vriende van my ons baie plesier. Ons merk dan en wan ʼn nuwe gas op en is kinderlik opgewonde daaroor. Ons het nou ook ʼn vrugtebord uitgesit en die loeries, houtkappertjies en ander voëls begin stadig maar seker naderkom.

Die hele affêre herinner my aan genade. Dit is mos ʼn vorm van genade dat ek soggens sorg vir iets te ete. Hulle betaal nie en vertrek so gou as wat aangekom het weer om die res van die dag op hul eie wyse deur te bring.

Die Bybel sê God sorg vir die mossies. Hulle is eintlik van geen besondere waarde nie, dink daaraan, twee word vir een sent verkoop. Tog sorg die Here vir hulle.

En dan die mooi gedagte “hoeveel te meer vir julle kleingelowiges”  in die res van die gedeeltes wat handel oor die ander dinge waarvoor die Here sorg.

Ons kan ons so bekommer oor waar die “volgende bord kos” (metafoor vir wat ons nodig het) vandaan gaan kom. Ons sien dat die ekonomie aan’t flarde is en dinge kom net te stadig aan die gang. Baie sakeondernemings kon nog nie eers begin om hul deure oop te maak nie. Kos het ten spyte van wat gesê word, baie duur geword. Dit wil ʼn mens mos bekommer en dan weer, “julle is baie meer werd as die mossies vir wie die Here elke dag sorg”.

Kyk bietjie rondom jou en laat weet watter simbole van genade jy in jou omgewing raaksien. Dalk net ʼn sinnetjie of twee oor hoe dit jou herinner aan God so sorg, omgee, voorsiening, beskerming, genade en guns.

Mag die Here ons nuut bewus maak van hoe groot sy genade is.

“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” – LUKAS 12:6-7

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U my waardig genoeg ag om vir my te sorg..Amen

minnie muis ·

ja hoe nodig het ek dit nie vandag om te lees nie, ons sal donderdag hoor van werk oop of nie … ek sukkel om nie te stress nie, maar ek weet ook ons meer werd dan mossies .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.