ToekomsVenster: Skep moed

(Foto: Pixabay/Pexels)

“Toe het die Here gevra: ‘Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?’.” – Eksodus 33:14

Ek hoor in ʼn besprekingsprogram die afgelope week dat nagenoeg 18 miljoen mense in Suid-Afrika aangewese is op die toelaes wat van owerheidsweë beskikbaar gestel word ten einde in hul behoeftes te voorsien.

Ons is almal bewus van die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika. Dit is veral jongmense wat desperaat en moedeloos na die toekoms kyk en wonder of daar uitkoms sal kom.

In ʼn ander bespreking hoor ek dat meer as twee miljoen mense daagliks honger beleef; van hulle is meer as 600 000 kinders. Dit is ʼn hartseer werklikheid en ʼn mens vertrou dat daar uitkoms sal kom.

Suid-Afrika is ʼn land met vele probleme. Op bykans elke terrein van die samelewing is daar uitdagings en onsekerheid. Sonder om op die besonderhede daarvan in te gaan, omdat dit meer as bekend is, het hierdie toedrag van sake ʼn negatiewe invloed op die moreel van Suid-Afrikaners.

Daar is al dikwels melding gemaak van die woede wat onderliggend is aan die Suid-Afrikaanse samelewing. Net ʼn bietjie irritasie word met handgebare en onvriendelike woorde, dikwels gekruide woorde, begroet.

Padwoede is nie onbekend in Suid-Afrika nie.

Soveel van die geweld wat in Suid-Afrika gepleeg word, vind binne die vier mure van mense se huise plaas. Uiteraard kan dit nie gepolisieer word nie.

Die spanning wat mense op ʼn daaglikse vlak beleef neem hulle saam huis toe en somtyds is dit spreekwoordelik die laaste strooi wat die kameel se rug breek.

Gelowiges in Suid-Afrika het ʼn besondere roeping om ons landgenote bewus te maak van die vrede wat God gee, vrede wat nie deur omstandighede geroof kan word nie.

Hierdie vrede word begrond in die wete dat God ook met hierdie wêreld, met Suid-Afrika en met elke burger op pad is.

Die Here is nie desperaat nie. Hy worstel nie om die uitdagings waarmee die wêreld gekonfronteer word die hoof te bied nie.

Dit is moeilik om te verstaan waarmee God besig is maar dat hy besig is, in belang van sy kinders besig is, kan nie betwyfel word nie.

Dinge rondom jou mag dalk nie wees wat jy wil hê dit moet wees nie. Ons leef nie in ʼn ideale wêreld nie. Dit is stukkend rondom ons.

Dit sal nie vir altyd so bly nie.

Skep moed, God het nie beheer verloor nie.

Ruil jou gevoelens van desperaatheid, uitsigloosheid, moedeloosheid, vrees en angs in en ontvang die gratis gawe van God se vrede in alle omstandighede.

Deel dan daardie vrede met ander mense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.