ToekomsVenster: So wil God oor ons getuig

(Foto: Samantha Fortney/Unsplash.)

Lees enkele verse uit: 1 Kor. 1:1-9 – Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ‘n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes. Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here. Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Wanneer die aanslae van die lewe so fel is wonder ʼn mens somtyds of jy die wenstreep gaan bereik. Dit voel eerder of jy iewers langs die pad kan uitsak en asof die energie om die wedloop te voltooi volledig ontbreek.

Dit was vir die nuwe Testamentiese gelowiges glad nie maklik om getuies van Jesus te wees nie. Vir die gelowiges in Korinte was diskriminasie en weerstand nie ongewoon nie. Hulle is immers omring van mense wat ʼn ander uitkyk op die lewe het. Afgodery was aan die orde van die dag en hebsug en materialisme was die gevolg van ʼn welvarende gemeenskap.

Christene met hul beskeie en nederige lewensuitkyk, hul diensbaarheid en offervaardigheid asook die morele kode wat hulle gehandhaaf het was vir die heersende kultuur eens te veel. Sommige Christene het geswig voor die versoeking om toe te gee en weer deel gekry aan die heersende onverskillige kultuur.

Hierdie gemeente ontvang ʼn betekenisvolle kompliment van Paulus wat die gemeente daar gevestig het. Hulle het die Boodskap van verlossing met albei hande vasgegryp en lewe daarvolgens. Hulle het hulle verdiep in die woord en ken die Skrifte. Hulle het hulle beywer vir die geestelike gawes en munt daarin uit. Hulle het ʼn lewende wederkomsverwagting en leef so dat die Here met hulle tevrede kan wees. Daarmee saam weet hulle dat die Here getrou is en dat Hy die werk wat Hy in hulle begin het sal voltooi tot op die dag dat Jesus op die wolke kom.

God is getrou en sal hulle van die kwade bewaar. Wat Hy begin het sal Hy klaarmaak. Hulle moet net die oë gevestig hou op Jesus. Hy is die Begin en die Voleinder van die geloof.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.