ToekomsVenster: Soek jou krag by die Here

bybel-studie-man-sit

(Foto: Ben White/Unsplash)

“ʼn Sagte antwoord laat woede bedaar, ʼn krenkende woord laat woede ontvlam.” – Spreuke 15:1 (AFR83)

Ek maak verskoning dat ek weer by my kleinkinders is. Dis net dat ek so baie dinge leer deur na hulle te kyk en op te let na die manier waarop hulle die wêreld beleef.

My volwasse verwysingsraamwerk kompliseer die lewe somtyds veel meer as wat nodig is. Dalk moet ons somtyds na die wêreld kyk soos kinders.

Superhelde soos Captain America, Hulk, Spiderman en Flash is mos nou deel van enige seuntjie se lewe.

Hierdie superhelde het nou groot geld geword; of dit nou klere, slaapklere, skoene, skooltasse, kosblikke of pennesakkies is, tekens van hierdie superhelde word daarop aangebring.

Hierdie kleinkind van my is net vier jaar oud en Hulk is op dié stadium sy held. Al brullende loop hy deur die vertrek, trek sy skouertjies saam en sy gesig speel die spel. ʼn Onderaardse gil kom by sy mond uit. Sy oë is gefokus en dis duidelik dat hy besig is om die wêreld, en die onreg wat daarin plaasvind, reg te sien. Hulk is kwaad, sommer baie kwaad.

Dis mos wat hierdie helde doen, hulle gee kriminele bloedneus. Wie waag om verkeerd te doen, sal met hulle te doen kry.

Ongelukkig werk dit net so in ʼn kind se lewe. Volwassenes besef dat jy die lewe nie so kan regkry nie.

Jy kan die lewe nie reg skree, waarsku of afknou nie.

Jy is ʼn mens tussen ander mense, self stukkend en gebroke net soos wat hulle is.

Jy is op die weg van heelwording en nie in ʼn posisie om ander mense die vinger te wys nie.

Jy is een van baie.

Jy is self ʼn sondaar wat uit genade gered is en word.

Jy het nodig om daagliks tot bekering te kom.

Jy is aangewese op die krag van die Heilige Gees om jou deur verknorsings te dra.

Jy kan nie mense rondom jou reg verskreeu nie. Hoe harder jy skree, hoe meer helder blyk jou eie onsekerheid.

Mense wat dink dat hulle met geweld, emosioneel en fisies gesproke, ander mense tot ander insigte kan bring, leef in ʼn droomwêreld.

Mense is broos, kry seer, het hulp en ondersteuning nodig. Dit geld ook vir jou.

Die Bybel sê, soek jou krag by die Here en in sy groot mag.

Hy sal jou toerus vir die lewe en die uitdagings daarvan. Laat so ʼn bietjie sagtheid in jou lewe toe en word weer ʼn mens onder mense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.